Vredenburg-park ‘vuil en onveilig’

Die Vredenburg-park in Hillstraat het oor die jare heen al hoe meer agteruitgegaan.


Die Vredenburg-park in Hillstraat het oor die jare heen al hoe meer agteruitgegaan.

Volgens inwoners van Vredenburg was dié eens pragtige park ’n plek waar troufoto’s geneem is en kinders vrylik kon speel. Tans is die toestand van die park en dam ’n oogseer, met vullis wat gestrooi lê, en dit is onveilig.

Volgens Lientjie Blok, wat in Vredenburg gebore is en grootgeword het, het sy as kind en ander kinders gereeld die roete deur die park op pad skool toe en terug huis toe gevolg.

“Dit was veilig, netjies, skoon en is altyd in stand gehou. Ons het selfs bal geskop daar op naweke. Maar deesdae vermy ek die omliggende strate, want ’n mens voel ongemaklik – asof iemand net enige tyd uit ’n bos kan spring en jou aanval.”

Nog ’n inwoner van Vredenburg vertel dat sy daagliks verby die parkie moet stap om by Shoprite uit te kom.

“Ek kan nie meer alleen loop nie, want daar is altyd misdadigers wat daar wegkruip en dit is onveilig,” sê sy.

’n Ander inwoner stem saam dat die parkie en dam ’n oogseer is.

“Ek glo niemand sal veilig voel om daar te gaan sit en middagete te eet nie, want dit is ’n bymekaarkomplek vir skelms en ander onwettige aktiwiteite. My voorstel is om ’n lamppaal met ’n sterk lig in die middel van parkie te sit sodat die hele parkie, met dam en al, saans verlig is.”

Die inwoner sê die hele omgewing is in ’n slegte toestand.

“Die dam se water vrot en dit lyk vieslik van al die rommel daar. Die parkie was vroeër jare baie mooi en skoon. Die dam was in ’n goeie toestand en dit is gereeld vir fotosessies vir troues gebruik. Hoekom kan dit nie weer wees soos daai tyd nie? Die park het die potensiaal om ’n fantastiese park te wees as dit reg bestuur en hanteer word.”

Tereza Burger, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), sê die park word deur ’n gestruktureerde skoonmaakprogram in stand gehou.

“Ongunstige weerstoestande, soos in die wintermaande en reënseisoen ervaar word, kan egter hierdie planne ontwrig, wat dit soms uitdagend maak om die terrein doeltreffend te bestuur. Daarbenewens het die munisipaliteit voortdurende probleme met vandalisme en rommelstrooiing wat die park se toestand negatief beïnvloed.”

Burger voeg by om hierdie uitdagings die hoof te bied, is SBM tans besig om heinings rondom die park op te rig om toegangsbeheer te verbeter. “Sodra die heinings voltooi is, sal die munisi­pali­teit die park skoonmaak en verfraai.”

You need to be Logged In to leave a comment.