Vredenburgse entrepreneur, Hanschen Lategan-Cleophas, het goeie rede om te glimlag.
Haar verfbesigheid, Paint Express, is die enigste kleinsakeonderneming uit die Weskusstreek wat gekies is om deel te neem aan die 2016 SAB Stigting se Tholoana-entrepreneurskapprogram. Slegs 46 aansoeke, uit meer as 2 000 landswyd, is gekeur om vanaf Julie deel te neem aan die program.
Vir dié oud-Telkom-werknemer is die besit van ’n eie sakeonderneming die verwesenliking van ’n idee wat al lank in haar en manlief Wilfred se koppe woel. Sy het 18 jaar vir Telkom gewerk, maar toe hul kantoor so twee jaar terug op Vredenburg sluit, het haar man ’n jaar later vir haar gesê die tyd is nou reg.
“Alles het net in plek geval, die besigheid is geregistreer en ek het die perseel gekry wat ek wou hê.”
Hanschen is alleeneienaar en bestuur die besigheid terwyl haar man die verkoop van die produkte hanteer – sy sterk punt, sê sy.
Sy het egter oor die afgelope twee jaar ontdek dit is twee verskillende goed om ’n eie besigheid te begin én dit te maak werk, en dít, sê sy is waarmee die Tholoana-entrepreneurskapprogram jou help. Dit sluit in mentorskap, werkswinkels, e-opleiding en voorbereiding oor beleggings.
“Dit wat ons nou uit die program uit kry, wens ek vir elke jong entrepreneur,” sê sy.
Een van die belangrikste lesse wat sy voel sy geleer het, is om te besef dat jy jou besigheid is. “Ons het by die werkswinkel geleer dat jy jou brand is. Ek is Paint Express.”
Dit is juis haar passie en entrepreneurgees wat haar ook laat uitstaan het vir die keurders van die program.
“Ons is beïndruk deur die verskeidenheid van talentvolle mense wat aansoek gedoen het vir die program,” sê Bridgit Evans van die SAB Stigting, wat die program finansier.
“Die Weskus is ’n fokusarea vir ons, so ons was verheug om ’n besigheid in die streek te vind met sulke goeie groeipotensiaal soos Paint Express.”
Hanschen voel baie positief oor hul toekoms hier op die Weskus met al die ontwikkelings wat hier kom.
“Nou is die tyd om jouself te vestig en seker te maak mense is bewus van jou,” sê sy.
Klein sakelui wat vir die program wil aansoek doen, kan op die SAB Stigting se webblad (www.sabfoundation.co.za) kyk wanneer die volgende inname in 2017 is.