Noluvu Ludidi

‘n Sosialemediaplasing het die Weskus ná die skielike dood van die 23-jarige Jefftaline April, ‘n inwoner van Middelpos, aan die gons gehad.

Volgens die plasing is Jefftaline, of “Koekoes” soos sy in die gemeenskap bekendgestaan het, op Maandag 5 Mei oorlede.

Dit nadat sy na bewering op Woensdag 30 April onder raaiselagtige omstandighede deur polisiebeamptes aangerand is en hulle haar glo, volgens die inskrywing op sosiale media, gedwing het om drie sakkies tik en ‘n Mandraxpil te sluk.

April het die beamptes glo ingelig dat sy ‘n asmaleier is, maar dit is na bewering geïgno-

reer. Volgens die plasing kon die polisiebeamptes nie geïdentifiseer word nie omdat hulle glo geen naamplaatjies gedra het nie.

‘n Inwoner en kennis van April het gedeel dat wat met die jong vrou gebeur het hartverskeurend is. “Wat gebeur het, is so verkeerd . . .  Die polisie is veronderstel om te dien as die beskermers van die gemeenskap en moet seker maak geregtigheid geskied. Hulle is dan nou dieselfde mense wat wantroue in die harte van die gemeenskap veroorsaak, want hoe vertrou ek ‘n polisiebeampte ná wat gebeur het?”

Die inwoner sê sy is teleur-

gesteld in die polisie. Hoewel April asma gehad het, glo die inwoner dat die dwelms daartoe bygedra het dat haar lewe kortgeknip is.

Inwoners het op sosiale media hul kommer uitgespreek en voel “genoeg is genoeg” wanneer dit by polisiebrutaliteit kom.

Weslander het ‘n navraag aan die provinsiale polisiekantoor oor die voorval gestuur en is na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) verwys.

Volgens Phaladi Shuping, woordvoerder van Opod, is die voorval by hulle aangemeld.

“Ons wag op die uitvoering van die nadoodse ondersoek

hierdie week deur die patoloog om die oorsaak van dood te bepaal, waarna Opod sal bepaal of die dossier oorgeneem moet word of nie.”

Weslander het uitgereik na die familie, insluitend April se ma en oom, maar hulle wou nie kommentaar oor die kwessie lewer nie. Die vrou wat die oorspronklike inskrywing op Facebook gemaak het, wou ook nie op die saak uitbrei nie. Die koerant het ook verneem dat ‘n tweede vrou saam met April ten tyde van die beweerde aanran-

ding was, maar pogings om met haar in kontak te kom was ook teen druktyd onsuksesvol.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article