“Relda, ek het vir jou slegte nuus …” Dít is die woorde wat Esmarelda Boois se lewe in ‘n oogwink verander het.
Dié ma van drie moes die tyding hoor dat haar oudste seun, Eshzano Boois (15), verdrink het. Die voorval het verlede Woensdag (8 Oktober) in Piketberg gebeur.
Esmarelda het aan Weslander vertel die oomblik toe haar voorman die nuus met haar deel, het sy nie geweet of sy kom of gaan nie. Sy beskryf dit as die seerste seer. Esmarelda se niggie het haar opgelaai en na die toneel van die voorval geneem.
Sy verduidelik Eshzano het by haar broer en skoonsuster gewoon. Die dam waar hy verdrink het, is nie te ver van haar broer se huis af nie. Sy vertel dat hy saam met ‘n groep seuns na die dam toe is – glo net nadat hulle rugby gespeel het.
Wat vir haar skrikwekkend is, is die feit dat Eshzano ‘n baie goeie swemmer was.

“Ons het nog vroeër die dag op WhatsApp gesels waar hy my ‘n lekker dag toegewens het. Min het ek geweet dit sal ons laaste gesprek wees.”
Esmarelda het aanvanklik vermoed Eshzano het verdrink omdat hy ‘n kramp gekry het terwyl hy geswem het – juis omdat die seuns kort voor die voorval rugby gespeel het.
Sy sê sy is egter later ingelig dat een van die seuns Eshzano glo onder die water gedruk het. Sy kan nie vasstel of dit opsetlik was en of hulle maar net gespeel en dinge te ver gegaan het nie.
“Ek weet glad nie wat gebeur het nie. Al die kinders het weggehardloop en hom net daar gelos. Een van die kinders moet weet wat gebeur het. My broer het sy liggaam op die bodem van die dam gekry.”
Volgens Maria Boois, die tannie by wie Eshzano gewoon het, het sy die nuus van die verdrinking gehoor terwyl sy by die werk was.
“My man het na die dam gegaan om hom te soek. Hy het met sy voete gevoel en Eshzano raakgetrap en na die wal gebring. Toe ek die nuus hoor, was ek stukkend. Eshzano was ‘n
ordentlike kind. Hy was soos my eie kind,” sê Maria.
Esmarelda meen haar kind het groot drome vir sy toekoms gehad en het op skool baie goed gevaar. “Hy was ‘n baie slim kind; van kleins af. Eshzano het my baie bemoedig en geïnspireer om my lewe om te draai. Hy was ook baie beskermend oor my. Hoewel my hart stukkend is, moet ek nou sterk staan ter wille van my ander twee kinders.”
AO Joseph Swartbooi, ‘n polisiewoordvoerder, sê die omstandighede rakende die voorval word steeds ondersoek.
“Die Piketberg-polisie het op Woensdag 8 Oktober op ‘n klagte gereageer. Hulle het omstreeks 18:15 op die toneel (Stormdam) in Asblomstraat aangekom, waar hulle die liggaam van ‘n 15-jarige seun gevind het, wat reeds uit die water gehaal was.
“Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Die Piketberg-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek vir verdere ondersoek geopen.”
• Swartbooi doen ‘n beroep op enigiemand wat gesien het wat gebeur het, om na vore te kom. Skakel Crime Stop by 086 00 10 111 of gebruik die mobiele MySAPS-toepassing om inligting anoniem te verskaf.



You must be logged in to post a comment.