Beurtkrag, voorsiening van munisipale dienste en kostes en werkloosheid is alles in ag geneem met die opstel van die Bergrivier-munisipaliteit se 2023-’24-begroting.
Die konsepbegroting is tans uit en sal eersdaags deur die munisipale raad goedgekeur word. Voorgestelde tariewe, wat op 1 Julie in werking tree, sluit onder meer ’n 15,5%-verhoging in elektrisiteitstariewe in.
Volgens die munisipaliteit is die aanneem en implementering van ’n energieplan ’n prioriteit om te verseker dat ononderbroke dienslewering plaasvind. Saam met dit is die doel van die energieplan ook om die munisipaliteit se inkomstestrome te verseker.
Hoewel die nasionale energiereguleerder (Nersa) nie amptelik die elektrisiteitsverhoging vir elektrisiteit aangekondig het nie, het die reguleerder in Maart verduidelik die verhoging vir munisipaliteite sal 18,49% wees. Prakties beteken dit voorlopig ’n 15,90%-verhoging vir inwoners van die Bergrivier.
Dié verhoging sal uiteindelik amptelik goedgekeur word sodra die energiereguleerder ’n finale uitspreek lewer.
Hulpbehoewende huishoudings wat by die munisipaliteit geregistreer is, sowel as wonings met 20-ampere-verbindings, sal 50 kWh gratis elektrisiteit ontvang.
Die voorlopige verhogings vir ander munisipale dienste soos in die konsepbegroting uiteengesit, sluit in eiendomsbelasting (21%), water (7%), riool (7%) en vullisverwydering (20%).
Die styging in vullisverwydering is onder meer beïnvloed deur die kostes van brandstof en vervoer na stortingsterreine sowel as insameling en herwinning.
Die munisipaliteit se uitgawes in terme van werkers word vir die komende finansiële jaar op R181 701 306 beraam. Hierdie miljoene verteenwoordig 31,97% van die munisipaliteit se algehele bedryfskoste. Dit sluit voorsiening vir ’n 5,4%-salarisverhoging in.
In ’n poging om watervermorsing te verminder, beplan die Bergrivier-munisipaliteit om nuwe slim-watermeters te installeer. R1,370 mijoen is beskikbaar gestel om watermeters te vervang of vir wanneer nuwe watermeters geïnstalleer word.
Die munisipaliteit se kapitaalbegroting is na R77,423 miljoen verminder met die bestaande begroting wat op R82,910 miljoen vir dié doeleindes staan.
Die finale weergawe van die Bergrivier-munisipaliteit se nuwe begroting sal vandeesmaand goedgekeur word.

