Die begin van die nuwe skooljaar beteken ook dat Storiehoek weer elke Donderdagmiddag by die Paternoster-biblioteek aangebied word.

Die televisiepersoonlikheid Rita van den Heever, wat met vakansie op Paternoster was, het die kleintjies die afgelope Donderdag (18 Januarie) verras toe sy twee hondestories voorgelees het.

Die kinders het eers van hul eie honde vertel en toe vasgenael gesit en luister na Van den Heever se gedramatiseerde voorlesings. Die kinders het dadelik diep in haar hart ingekruip, het Van den Heever agterna gesê – veral daardie karnallies wat die storie vooruit wou raai. Vir haar is die werk wat Hoopsig (die Paternoster Project NPO) en Storiehoek doen, van die uiterste belang.

Volgens Van den Heever werk en leef vandag se kinders in ’n wêreld waarin ons ons nie kan indink nie. “Om suksesvol en gelukkig te wees, sal hulle aanpasbaar en meelewend moet wees en ’n oop kop moet hê. Niks kan hulle na my mening beter hierop voorberei as boeke, stories en nuuskierigheid nie. Voed dit.”

Daar was ook ’n stapeltjie nuwe boeke met hondestories wat die kinders sommer dadelik kon lees, en om die leesuurtjie mee af te sluit, het hulle hondegesiggies met knip-en-plak onder leiding van Annette Potgieter en ander vrywilligers gemaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025