Inwoners van Siyabonga-kinderhuis se vakansie is gemaak.

Lede van die ArcelorMittal Staal Radiobeheer-modelvliegtuigklub (ARMSRCC) het 23 Desember hul vakansieplanne opsygeskuif en die kinders en personeel van die Siyabonga-kinderhuis genooi om die dag by die vliegveld op die plaas Tiekosklip naby Langebaan deur te bring.

Volgens Otto Blanckenberg het die klub braaikos, koeldrank, eetgoed en geskenke voorsien. Lekkergoed is keer op keer met ’n radiobeheerde vliegtuig oor die veld gestrooi terwyl die kin­ders in die veiligheidsgebied toekyk. Sodra die vliegtuig geland het, kon hulle die veld stormloop en met ’n groot gejuig die lekkers in hul sakke prop.

Lede het byna 40 vliegtuie van alle soorte saamgebring en teenwoordiges met uitstekende kunsvlugte vermaak. Die kinders kon ook grootoog aan die modelle raak.

Die hoogtepunt vir die kinders was Juldie die kulkunstenaar se vertoning, wat glo selfs die grootmense oopmond gelaat het.

Klublede het hul blydskap uitge­spreek dat die klub vreugde kon bring aan die kinders en ook hulle dank­baar­heid uitgespreek aan suster Chrisna du Plessis en haar personeel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025