Visverkopers en visvlekkers onstoke in St. Helenabaai

“Baie werkers wag nege maande lank vir snoekseisoen. Die twee en ’n half maande se werk in die kouer maande moet help om plaaslike gesinne deur die hele jaar te dra.”


Visverkopers en visvlekkers is ontstoke gelaat nadat hulle vandag
(Donderdag, 9 April) moes hoor hulle mag nie snoek verkoop nie.

Weskussers
het gister na die St. Helenabaai-hawe gestroom opsoek na vis vir die komende
Paasnaweek. Vandag het werkers van die visbedryf weer na die hawe gekeer om hul
vangste af te laai, skoon te maak en verkoop, maar was deur polisie en
wetstoepassers voorgekeer.

“Vanoggend
is ons gesê ons moet permitte kry om in die hawe te werk. Ons het die permitte
van die polisie gaan kry en ’n paar mense is vanoggend by die hawe ingelaat.
Later die oggend moes almal weer uit, want skielik was die permitte nie meer
voldoende nie,” verduidelik visvlekker Melissa Esau.

Sy sê baie
werkers wag nege maande lank vir snoekseisoen. Die twee en ’n half maande se
werk in die kouer maande moet help om plaaslike gesinne deur die hele jaar te
dra.

Visserman
David Jordaan het vandeesweek aan Weslander gesê vissers se hande voel afgekap
ten spyte daarvan dat vissers kwytgeskeld is van die Covid-19 inperking.
Minister Barbara Creecy het in Maart aangekondig vissers kan voortgaan met
vangste vir ’n inkomste.

Jordaan,
voorsitter van die SA Vissergemeenskapsforum, sê vissers van die forum sou
liewer vergoeding tydens die nasionale inperking wou hê as om onder die
beperkings van die inperking te werk.

By navraag
het die departement van visserye gesê vissers mag hul vangste slegs aan
visaanlegte soos Sea Harvest of Oceana verkoop. Informele verkope, soos op
hawens, sal nie geduld word nie.

“Tydens die
nasionale inperking word toegang tot hawens vir die publiek beperk, wat ook
beteken die informele handel by hawens sal nie toegelaat word nie. Informele
vishandelaars sal op dieselfde manier as ander informele handelaars, toelating
van hul plaaslike munisipaliteite moet kry om as ’n noodsaaklike diens te
registreer,” het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement, verduidelik.

Nqayi sê
hierdie maatreëls is om te verseker vissers het so min as moontlik kontak met
ander, om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan.

You need to be Logged In to leave a comment.