Die kleinskaalse vissersgemeenskappe in die Weskus is moedeloos en sukkel om ‘n bestaan te maak.
Met hul pleidooie wat op dowe ore val, is die volgende stap om Maandag 14 Julie ‘n vreedsame betoging te hou. Volgens die Fishers Movement for Change (FMFC) sal die aksie ‘n week duur of totdat die minister van die departement van omgewing, bosbou en visserye instem om met die FMFC-leierskap te vergader om die krisis in die vissers- bedryf op te los.
Die departement het in November 2023 visvangregte aan kleinskaalse vissers vir die volgende 15 jaar toegeken. Dit het beteken dat vissers weer van voor af die proses moes begin en weer aansoek moes doen, terwyl baie van hulle nie finansiering gehad het nie.
Vissers meen die nuwe stelsel is onvolhoubaar en onprakties.

Volgens Charles Jordaan, ‘n visserman en die president van die St. Helenabaai- vissersgemeenskapsforum, word nie aan hul griewe aandag gegee nie. Hy meen die regte wat aan die “koöps” toegeken is, is onvolhoubaar en ekonomies nie haalbaar nie.
“Die Wet op Mariene-hulpbronne sluit nie inheemse volke in nie en is ondeursigtig, daar is nie gelyke deelname nie en koöp-lede het geen insae in die bedryf nie.
Hierdie is maar net ‘n paar van die talle kwessies wat opgelos moet word, het hy gesê.
Volgens een visserman is dit ‘n daaglikse stryd om kos op die tafel te sit en kop bo water te hou.
“Soos dinge nou aangaan, is daar nie ‘n toekoms vir ons nageslag nie en ons word in alle aspekte benadeel. Die minister neem nie ons kwessies ernstig op nie en aksie moet geneem word,” meen dié visser.
Volgens Naomi Cloete, die direkteur van die Paternoster Multipurpose Fishing Cooperation, is dit wat in die vissersbedryf aangaan, uiters power.
“Die regte wat hulle vir ons gee, was veronderstel om lewensvatbaar te wees. Dit is bitter hartseer. Ons het al hoe- veel appèlle gaan aanteken en niemand reageer nie. Die 40 kg vir die jaar is nie eens ‘n maand se kos nie en dek nie ons ander uitgawes nie. Dit is hartseer om te weet dat die staat niks van die vissersgemeenskap dink nie,” meen Cloete.
You must be logged in to post a comment.