Visfabrieketoernooi se 34ste hier

Die jaarlikse Visfabrieketoer­nooi vind vanjaar weer plaas – van Vrydag 25 tot Saterdag 26 Oktober.


Die jaarlikse Visfabrieketoer­nooi vind vanjaar weer plaas – van Vrydag 25 tot Saterdag 26 Oktober.

Die Visfabrieketoernooi is tans in sy 34ste bestaansjaar.

Johan Daniëls van Saldanha het in 2017 in ’n onderhoud met Weslander die opwinding wat die eerste Visfabrieketoernooi in Oktober 1990 gebring het, herroep (“Oud-rugbykaptein onthou eerste toernooi”, 30 November 2017).

Die toernooi het destyds aanvanklik net vir rugby voorsiening gemaak en het met 16 rugbyspanne begin.

Daniëls was toe 30 jaar oud en kaptein van Sea Harvest se rugbyspan, die wenners van daardie eerste toernooi.

Die Sea Harvest-span, onder leiding van Daniëls, was daardie jaar én die daaropvolgende drie jaar die wenners van die toernooi.

Netbal en sokker het ’n paar jaar later deel van die toernooi geword.

In 1997 het Boland Rugby ingekom en beheer van die rugbytoernooi oorgeneem.

Met ’n mengsel van sokker, rugby en netbal is daar vanjaar baie om na uit te sien.

Kobus Vergotine, die toernooi-organiseerder, verduidelik dat die doel van die toernooi is om samesyn te skep en vir visfabriekwerkers die geleentheid te bied om die toernooi te herdenk.

“Ons verwag goeie weer en beskou dit ook as ’n geleentheid om die vissersgemeenskap byeen te bring.

“Almal is welkom, van jonk tot oud,” sê Vergotine.

Hierdie jaar speel 13 rugbyspanne en 14 netbalspanne sal deelneem.

Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, sê hulle sien uit na sokker uit die boonste rakke waar visfabriek­werkers kan kommunikeer en sportmangees tussen die verskillende fabrieke bou.

Vanjaar het 23 sokkerspanne ingeskryf, met twee nuwe spanne asook twee laerskole wat ’n voorwedstryd vir die eindstryd gaan speel.

“Ons as sokkerorganiseerders wil net al die spanbestuur­ders, afrigters en spelers sterkte toewens met jul voorbereidings vir die naweek se groot toernooi,” voeg Basson by.

“Namens die Boland-rugbyunie se president en uitvoerende komitee, die Bergrivier-munisipaliteit en die plaaslike reëlingskomitee wil ons alle rugby-, netbal- en sokkerspelers alle sterkte toewens vir die toernooi.

“Ook ’n woord van waardering aan al die fabrieksbestuurders en alle rolspelers wat dit moontlik gemaak het vir ’n suksesvolle toernooi die afgelope jare.”

Die toernooi vind plaas op die Smit-sportterrein in Veld­drif. Toegang kos R20 vir volwassenes, R20 per voertuig en R10 vir kinders o.12.

You need to be Logged In to leave a comment.