Groot opgewondenheid heers onder netbalspanne vir vanjaar se Visfabrieketoernooi later vandeesmaand.

Die tyd kom al hoe nader vir die jaarlikse Visfabrieketoernooi einde Oktober.

Dié toernooi het aanvanklik net vir rugby voorsiening gemaak en met 16 rugbyspanne begin. Deur die jare het sokker en netbal aangesluit. Volgens Marieta Coetzee, die Suid-Afrikaanse Visfabrieke se netbalverteenwoordiger, is die Visfabrieketoernooi ‘n belangrike datum op mense in die Weskus se sportkalender.

“Vergaderings word gehou om van die toernooi ‘n sukses te maak, en netbal is al vir baie jare deel van die toernooi. Dit is vir ons ‘n baie groot voorreg om saam met Boland-rugby die toernooi mee te maak. Ons spanne kom van oral, van Mosselbaai tot by Noordbaai, om die toernooi te ondersteun.”

Coetzee bedank al die visfabrieke vir hul bydrae tot die toernooi. “Dit kos hulle jaarliks ‘n aardige bedrag om die toernooi moontlik te maak. Vir netbal is dit ‘n baie groot toernooi, want baie van die spanne speel nie ligawedstryde nie.”

Die spelers leef hul liefde vir sport by die toernooi uit met die fel kompetisie tussen fabrieke.

Tot dusver is daar 18 netbalspanne wat ingeskryf het, onder andere Pioneer, West Point, Lucky Star, Amawandle en Sea Vuna van Mosselbaai. Vanjaar is daar ook ‘n nuwe afdeling, wat vyf gemengde spanne van mans en vroue behels. “Iets om na uit te sien. Hulle speel net op Saterdag 25 Oktober.”

Coetzee sê die toernooi is ‘n geweldige inspuiting vir die Bergrivier-munisipaliteit, veral vir Velddrif en omliggende dorpe. Almal word uitgenooi om die twee dae by te woon, op Vrydag 24 en Sater- dag 25 Oktober. Die toernooi word op die Smit-sportterein in Velddrif beslis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025