Die tyd vir die Visfabrieketoernooi is uiteindelik hier.
Spanne maak gereed om van Vrydag 24 Oktober op die sokker- en rugbyvelde en die netbalbane van die Smit-sportterrein in Velddrif mee te ding. Die toernooi duur tot Saterdag 25 Oktober.
Die organiseerders het geen twyfel dat die Visfabrieketoernooi vir baie deelnemers een van die grootste geleenthede op die sportkalender is nie. Spanne kom van oral om deel te neem en plaaslike spanne van die Weskus beoog om hul dorpe se name hoog te hou.
Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, sê soos elke jaar gaan duisende viswerkers asook gaste van oor die Wes-Kaap heen die jaarlikse sporthoogtepunt bywoon.
“Ons verwag dat vanjaar een van die beste sokkertoernooie sal wees en 23 spanne het hulle reeds ingeskryf. Ons sien uit na sokker uit die boonste rakke.”
Basson meen die jaarlikse toernooi is ‘n goot finansiële inspuiting vir gastehuise en ondernemings in die Bergrivier-omgewing.
“Baie van ons spelers word ook deur groter spanne raakgesien om hul talent ten toon te stel.”
Volgens Marieta Coetzee, die toernooi se netbalverteenwoordiger, is vergaderings gehou ter voorbereiding vir die toernooi.
“Dit is vir ons ‘n baie groot voorreg om die toernooi saam met Boland-rugby mee te maak. Ons spanne kom van oral – van Mosselbaai tot by Noordbaai – om die toernooi te ondersteun. Netbalspanne staan tans op 18 inskrywings, wat onder meer Pioneer Fishing, West Point Processors, Lucky Star, Amawandle en Sea Vuna van Mosselbaai insluit. Vanjaar is daar ook ‘n nuwe afdeling, wat vyf gemengde spanne van mans en vroue behels – iets om na uit te sien. Hulle speel net hierdie Saterdag – 25 Oktober.”
Kobus Vergotine, die toernooi-organiseerder, sê 14 rugbyspanne het vanjaar ingeskryf. Dit sluit verlede jaar se wenners, Amawandle, asook West Point Processors, Elandsbaai en meer in.
Vergotine sien uit na goeie mededinging vir die spelers in alle sportsoorte wat deelneem.
“Ons sien uit na ‘n fantastiese atmosfeer en eenheid, wat in die onderskeie gemeenskappe geskep word – veral onder die deelnemende fabrieke. Dit gaan gewis ‘n groot een wees hierdie jaar en ek wens al die deelnemers alle sterkte toe.”







