Die 34ste Visfabrieketoernooi was die naweek ’n dag van aksie, goeie sportgees en groot pret.
Dié jaarlikse toernooi het Vrydag 25 en Saterdag 26 Oktober by die Smit-sportterrein in Velddrif plaasgevind.
Volgens Kobus Vergotine, die organiseerder, het die toernooi vanjaar seepglad verloop.
“Daar wees geen ernstige beserings nie en goeie sportmangees het geheers. Toeskouers het hulle tydens die toernooi goed gedra en geen klagtes is ontvang nie. Goeie rugby sowel as netbal en sokker is opgedis.”
Met 5 214 mense by die toernooi, wat al die spanne, toeskouers, sekuriteit en mediese personeel ingesluit het, is Vergotine in sy noppies met vanjaar se toernooi.
“Die doel was om die vissersgemeenskappe bymekaar te bring met heerlike sport oor die naweek. Almal sien elke jaar na die Visfabrieketoernooi uit. Hierdie datum is een van die belangrikste op die kalender,” sê Vergotine.
Jacques Basson, die wedstrydsekretaris van die Visfabrieke-sokkertoernooi, sê die hoogtepunt van die sokker was die 30ste bestaansjaar waarna al die sokkerspelers van die verskillende fabrieke uitgesien het.
“Honderde toeskouers het al voor 08:00 die Vrydagoggend saamgetrek vir die opening van die dag. Spanne het mekaar behoorlik laat les opsê – reg van die afskop af,” sê Basson.
Met 22 sokkerspanne wat deelgeneem het, sê Basson die gehalte van die sokker was uit die boonste rak.
“Volgende jaar sien ons uit na meer spanne. Ons wil die Visfabrieke-toernooi een van die beste en grootste toernooie in die Wes-Kaap maak.”
Namens die Boland-rugbyunie (BRU) bedank Vergotine graag die Bergrivier-munisipaliteit, die onderburgemeester, Ray van Rooy, asook die Velddrif-rugbyklub, die plaaslike polisie, verkeersdienste, brandweerdienste, tegniese dienste, die direkteur van gemeenskapsdienste, skeidsregters, mediese personeel en elke mens wat sy/haar rol vervul het. Hy bedank ook die BRU-president, Bennie van Rooi, die adjunk-president, Pat Marran, lede van die uitvoerende komitee en werknemers van die BRU.
Alle rolspelers sien reeds uit na volgende jaar se toernooi.