Indien die vakansie te lank begin raak en jy nuwe stories soek om te lees, kan jy dalk stories in verskeie van die amptelike tale begin lees.

Die nieregeringsorganisasie Nal’ibali bied stories wat jong Suid-Afrikaners kan help om in hul moedertaal te lees.

Nal’ibali-leesbylaes word in agt van die 11 amptelike tale gedruk. Elke uitgawe bestaan uit 16 bladsye en is vol stories wat spesiaal geskryf is om in kinders se smaak te val.

Jy sal self die storieboekie moet vou en knip, wat beteken jy help om die boek saam te stel. Daar is ook wenke vir ouers, onderwysers en leesklubleiers om die leesproses pret te maak.

Navorsing toon duidelik dat ’n sterk moedertaalgrondslag kinders se leerproses bevorder. Dit maak dit ook makliker vir hulle om ’n tweede taal aan te leer. Kinders wat dikwels vir hul eie plesier lees, se skooluitslae verbeter in al hul vakke – selfs in wiskunde.

Taal is ook deel van individue se kulturele identiteit.

Somikazi Deyi van die Afrikatale-departement aan die Universiteit van Kaapstad sê mense definieer hulself deur middel van hul spreektaal. “Hul waardes, die manier waarop hulle sosialiseer en hul waardigheid word in hul taal vervat. Die erfenis van ’n spesifieke groep mense word ook deur hul eie taal verpersoonlik.”

Nal’ibali se tweetalige bylaes word aan leesklubs, gemeenskapsorganisasies, biblioteke en skole in al nege provinsies versprei.

Besoek Nal’ibali om vas te stel waar en hoe jy die bylaes in die hande kan kry. Vra iemand om jou te help om die stories by www.nalibali.org of www.nalibali.mobi af te laai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article