Vyf atlete van Langebaan Primêre Skool het Saterdag (31 Augustus) aan die Wes-Kaapse landloopkampioenskap deelgeneem.
Die geleentheid is by die Hoërskool Hottentots-Holland in Strand gehou.
Die atlete het hul skool, klub en Boland met onderskeiding verteenwoordig – Angell Pholman is vir die tweede jaar as die Wes-Kaapse kampioen gekroon.
Caydon Vraagom het die sewende plek behaal en Xavier Lewis was vierde. Die ander twee atlete, Evan-Lee Berling en Sanwill van Wyk, het derde plekke behaal.
Pholman, Lewis, Berling en Van Wyk sal nou die Wes-Kaap in die Suid-Afrikaanse Skole-atletiek- landloopkampioenskap, wat op Saterdag 28 September in Kimberley plaasvind, verteenwoordig. John Hutchinson het as afrigter opgetree vir die Boland-landloopspan en Christopher Rodgers is gekies as bestuurder om die Wes-Kaapse landloopspan te lei.