“Bring net ons kind terug; ons gee nie om in watter toestand nie,” is ’n familielid van die verdwene Joshlin Smith (6) se pleidooi.
Anna Wilson, Joshlin se pa, José Emke (34), se tante hoop steeds dat sy iewers is en nog lewe, ten spyte van gerugte dat sy vir R20 000 aan ’n sangoma vir moeti verkoop is.
’n Duidelik emosionele José se boodskap aan diegene wat by Joshlin se verdwyning betrokke is, is dat hulle moet weet dit wat hulle aan hom en Joshlin gedoen het, “oor hulle pad ook kan kom”. Hy het 600 km ver van Concordia naby Springbok gereis om na Joshlin te kom help soek.
“Sy is baie geheg aan my,” het hy vertel, en swaar gesluk toe hy oor haar vriendelikheid en liefdevolheid gesels het. Joshlin het glo in die drie maande wat hy tydelik terug Concordia toe is om sy sieklike ouma by te staan, gereeld kom vra waar haar pa is.
Daar was geen kontak tussen hulle sedert November verlede jaar nie, omdat Kelly Smith (33), Joshlin se ma, glo nie vir hom ’n selfoonnommer wou gee nie. Hulle was agt jaar in ’n verhouding.
José was nooit gemaklik daarmee dat Joshlin en haar driejarige sussie saam met Kelly by haar kêrel, Jacquin “Boeta” Appollis, bly nie. “Hulle wou nooit teruggaan huis toe as hulle hier by ons gekuier het nie, want hulle was bang vir hom.”
José bly by sy ma, Loretta Yon, in Diazville. Hy was altyd die een wat die kinders in die oggende skool toe geneem en in die middae gaan haal het.
“Ek wil haar net terughê,” sê dié pa, wat self sukkel met epileptiese aanvalle. Hy het selfs ten aanskoue van ander mense in die soekgeselskap inmekaargesak met ’n epileptiese aanval ten tyde van een van die vele soektogte na Joshlin.
Die Wes-Kaapse polisie het gister (Woensdag 6 Maart) bevestig inhegtenisnemings in die ondersoek na Joshlin se verdwyning 17 dae gelede is op hande. Dit volg nadat van die vier aangehoudenes in die saak gister bekentenisse afgelê het wat uiteindelik na konkrete leidrade gelei het.
Volgens brig. Novela Potelwa, kommunikasiehoof van die Wes-Kaap-polisie, hoop die polisie dat die ondervragings tot uitsluitsel in dié saak sal lei.
Joshlin, ’n graadeentjie by Diazville Primêr, se verdwyning op Maandag 19 Februarie, het die hele land aangegryp.
Selferkende tikslaaf
Kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het ten tyde van die verdwyning gesê Kelly (33), ’n selferkende tikslaaf, het haar kind op Maandagaand 19 Februarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Joshlin was nie dié dag by Diazville Primêr waar sy ’n leerder is nie, en Kelly se weergawes hoe dié dag verloop het, verskil. Dit blyk nou dat haar twee dogtertjies albei dié dag by Boeta en van sy vriende en familielede, agtergebly het.
Dié ma se houding oor die aangeleentheid het die mense van Diazville, waar Kelly en haar drie kinders tot twee jaar gelede nog gewoon het, en Middelpos, waar die gesin nou in ’n plakkershut bly, verskriklik ontstig. Die gemeenskap het gesoek, gehuil en hul frustrasies en vrese te kenne gegee.
Kelly en Boeta moes selfs ’n paar keer vir hul eie veiligheid uit Middelpos verwyder word omdat gemeenskapslede hulle wou leed aandoen oor wat die mense as die paartjie se weerhouding van inligting beskou het. Gemeenskapslede het deurentyd volgehou dat hulle by Joshlin se verdwyning betrokke is, en mense het van die begin af gesê sy is verkoop.
Gemeenskapslede het teen druktyd steeds nie heeltemal hoop opgegee dat Joshlin tog maar iewers aangehou word nie. “Ons was orals,” het Leya Neethling (65), voorsitter van die Diazville-buurtwag, vertel. Hulle het deurentyd – van Dinsdag 20 Februarie af – nie ophou soek nie: in groot groepe saam met die polisie en in kleiner groepies op hul eie. Teen druktyd het hulle weer in die bosse oorkant die Tabakbaai-vakansieoord gesoek.
Die soektog na Joshlin het die Diazville en Middelpos-gemeenskappe bymekaargebring, en saam met individue, nie-regeringsorganisasies, gemeenskapsleiers, polisiebeamptes, buurtwagte en verteenwoordigers uit verskillende sfere van die regering is onverpoosd – selfs in die nag – na Joshlin gesoek.
Forensiese toetse
Neethling en Bettie Bester het verduidelik die gebied waar bebloede klere Sondagmiddag gekry is, is aan die kant van die buurt waar een van die aangehoudenes bly. Die polisie het bevestig hulle wag nog op die uitslag van die forensiese toetse wat op die bebloede klere gedoen is.
Die gemeenskap en plaaslike polisie se hande is verlede week versterk met ’n multi-dissiplinêre span wat die Stad Kaapstad beskikbaar gestel het. Hierna het die soektog, wat toe al langer as ’n week aan die gang was, weer momentum gekry. Nog polisie-eenhede van die Kaap het hulle ook by die gesamentlike operasionele bevelsentrum aangesluit, wat vanuit die veeldoelige sentrum in White City en die Diazville-gemeenskapsentrum bestuur word.
Helfrich het verlede week benadruk die polisieondersoek is erg belemmer deur vals “leidrade”, bespiegelinge en mense wat eie reg gebruik. “Op die ou einde het dit net polisiebronne én tyd gemors.”
Volgens Potelwa was speurders teen druktyd steeds besig om vier aangehoudenes – twee mans en twee vroue tussen 26 en 34 jaar – te ondervra.
Volgens Lee-Ann Davids-Hartzenberg, hoof van Diazville Primêr, vra Joshlin se klasmaats gereeld na haar en wil weet wanneer sy terugkom. Joshlin was vanjaar nog net drie keer afwesig.
Potelwa het gesê “inhegtenisnemings is op hande”.
Indien iemand inligting het om die lede van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in sy ondersoek te help, bel asseblief speursers. Meyer Milstein, die ondersoekbeampte, by 079 879 8588.
- Die spelling van Joshlin se naam is by Diazville Primêr bevestig.