Die parlementêre gesprek vandeesweek oor internasionale samewerking om die smokkel van inheemse vetplante hok te slaan, kom toevallig net ná die inhegtenisneming van vier vermeende vetplantsmokkelaars naby Vanrhynsdorp.
Die vier mans van 25 tot 32 jaar oud is volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, verlede Donderdagaand (15 Augustus) aangekeer met drie sakke beskermde, inheemse vetplante.
Die polisie het inligting opgevolg oor vermeende verdagtes in ’n silwerkleurige Mitsubishi Pajero.
Die voertuig is voorgekeer en die drie verdagtes kon nie enige permitte vir die sakke vol vetplante wys nie.
Hulle het Maandag in die Klawer-landdroshof verskyn.
Ná ’n vraag in die parlement die afgelope Vrydag (16 Augustus) het die Demokratiese Alliansie in die Wes-Kaap beklemtoon dat die nasionale regering met bestemmingslande in Oos-Asië in gesprek sal moet tree om die onwettige uitvoer van gestroopte vetplante te help takel asook die internasionale misdadige sindikate wat die onwettige handel aanvuur.
Die onwettige handel in vetplante bly volgens CapeNature die volopste wildsmisdaad in die Wes-Kaap.
Die meeste plante is geoormerk vir die onwettige handel in Oos-Asië, waar dit aan versamelaars en kwekerye verkoop word.
Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het aangedui dat die vetplante wat die meeste in dié provinsie gestroop word, die wonder-clivia, olifantvoet, verskeie spesies van die Euphorbia-familie, Eriospermum-spesies en talle spesies dwergvetplante in die Conophytum-genus insluit.