Blikkies ingemaakte sardyne waarop die polisie in Gauteng in ’n klopjag beslag gelê het, is nie outentieke Lucky Star-produkte nie.
Luidens ’n persverklaring bevestig dié visinlegmaatskappy dat sy ondersoekers en derdeparty-kundiges bevind het dat die etikette op die blikkies vervals is. Die maatskappy gebruik ook nie blikkies met ringtrekdeksels vir sy ingemaakte sardyne nie.
Die maatskappy voer aan dat ’n internasionale vervaardiger dié ingemaakte sardyne, onder die Woolworths-handelsmerk vervaardig, uit Marokko ingevoer het. Woolworths het later die besending produkte afgekeur en die verskaffer gevra om die goedere te kom verwyder.
Van dié blikkies is klaarblyklik onderskep en onwettig as Lucky Star-produkte met behulp van vals etikette hernoem.
Die polisieklopjag op die oortreders se perseel en die daaropvolgende ter plaatse inspeksie het ’n oorweldigende hoeveelheid bewyse aan die lig gebring.
Volgens Lucky Star is daar etiketdrukmasjiene, vals etikette, maklik oopmaakbare ringtrekblikke en ander stowwe en toebehore gekry – heeltemal teenstrydig met hoe Lucky Star sy blikkieskos vervaardig.
“Dit bewys onteenseglik dat die produkte waarop beslag gelê is nie van Lucky Star-oorsprong is nie.”
Die polisie het op alle voorraad en masjinerie beslag gelê.
Maar hoe kan ’n mens in die winkel vervalste produkte identifiseer?
. Kyk na die gehalte van die etiket. Is dit papier van hoë gehalte, uniek aan Lucky Star-produkte? Die etikettering van vervalste goedere is oor die algemeen van swakker gehalte.
. Is die drukwerk duidelik? As daar vlekke of kleurverskille is, kan dit aandui dat die produk nagemaak is.
. Kyk of die etiket haaks is of dat dit behoorlik aan die blikkie vasgeplak is.
. Maak seker die unieke produkkode en die beste-voor-datum is op die blik gedruk.
. Gaan die duidelikheid en leesbaarheid van die strepieskode na.
. Kontroleer die unieke, naspeurbare kodes wat op die etiketflap gedruk is; en
. Lucky Star-blikkies het nie ringtrekdeksels of maklik oopmaakbare deksels nie.
. Kontak die Verbruikersorglyn by 0860 102 500 of stuur e-pos na info@luckystar.co.za indien jy vermoed vervalste Lucky Star- of ander produkte word verkoop.