’n Dertigjarige man van Ethiopiese afkoms is Saterdagaand om 20:00 in sy winkel in Riverview, Citrusdal, beroof. Vier onbekende rowers het die winkel binnegegaan waarop een van hulle ’n vuurwapen uitgeruk en die klaer daarmee gedreig het. Hulle het geld geëis. Die rowers het te voet gevlug nadat hulle sowat R7 000 kontant én die klaer se selfoon van hom geroof het. Die verdagtes is nog op vrye voet en die polisie ondersoek die saak.

Sondag om 21:30 was ’n 34-jarige man agter in sy winkel in Malmesbury besig om aandete voor te berei toe hy hoor sy broer stry met iemand. Hy het gaan kyk wat aangaan, waarop rowers hom met ’n glasbottel oor die kop geslaan het. Die rowers het die klaer en sy broer aangerand voordat hulle met goedere en kontant van sowat R7 460 gevlug het. Viso Isaacs (22) is intussen in verband met die rooftog in hegtenis geneem. Hy het Dinsdag 17 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn.

Vyf perlemoene is Saterdag om 11:30 by Melvin van der Poll (37) gekry. Van der Poll is in Kreefstraat, Doringbaai, met ’n groen sak opgemerk. Hy het aanvanklik gesê daar is mossels in, maar by nadere ondersoek is die perlemoen gekry. Hy het Maandag in die Vredendal-landdroshof weens die onwettige besit van perlemoen verskyn.

’n Man van Malmesbury is Saterdagaand omstreeks 22:45 in sy regterskouer gewond. Die 23-jarige man is in Flaminkstraat, Saamstaan, in ’n skietery gewond. Die motief vir hierdie poging tot moord, én wie die verdagte is, is egter nog onbekend.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025