Anja De Nobrega (agter), nuwe verpleegbestuurder van die Vredenburg- provinsiale hospitaal, saam met haar kollegas op Wêreld-TB-dag.Foto:


“Jy gaan nie ryk word nie, maar jy sal ryk wees aan lewensvaardighede.”

Dít is die mening van Anja De Nobrega, die nuwe verpleegbestuurder van die Vredenburg-provinsiale hospitaal.

Internasionale verpleegstersdag breek Donderdag (12 Mei) aan en Weslander het by De Nobrega (48) aangeklop oor verpleegkunde en haar nuwe rol by die plaaslike hospitaal.

Internasionale Verpleegstersdag herdenk die beroemde verpleegster Florence Nightingale (1820 tot 1910), se geboortedag.

“Verpleegkunde is só ’n wye veld. Jy kan in byna enigiets spesialiseer en aan die einde van die skof weet jy jy het ’n verskil in iemand se lewe gemaak,” verduidelik sy.

De Nobrega het op 16-jarige ouderdom reeds haar loopbaan in verpleegkunde begin. Haar mees onlangse pos was as eenheidsbestuurder in Paarl, maar sy het sedertdien saam met haar man na die Weskus verhuis.

In Paarl het sy onder meer personeel van die Covid-sale bestuur waar “nuwe planne elke 20 minute gemaak moes word”.

Hier aan die Weskus is sy nou aan die stuur van die hospitaal se verpleegpersoneel en werk nou met die distrik-gesondheidspan saam.

“My grootste doel is om die hospitaal die trots van die gemeenskap te maak. Plaaslik kort hier genesing vir ons personeel weens burnout, en daarom is dit belangrik om ’n positiewe werksomgewing te skep,” meen sy.

Vir De Nobrega, ’n verpleegster wat in onkologiese en palliatiewe sorg spesialiseer, beteken dit om pret en ’n ligter atmosfeer te skep. Sy meen niks sal nooit van die erns en belangrikheid van verpleërs se werk weggevat kan word nie, maar dit is belangrik vir personeel om ’n wil te hê om daagliks by die werk op te daag.

De Nobrega sê dit gebeur gereeld dat personeel gevloek en skel word. Sy meen die personeel word té gereeld afgekraak. “Ek dink indien ek ’n salon bedryf het en ’n kliënt het só met die personeel gepraat soos sommige pasiënte met gesondheidswerkers praat, sou ek hulle uit die salon geskop het. Ons het nie daardie opsie nie, maar indien enigiets spesifiek uit Verpleegstersdag moet kom, is dit vir pasiënte om te onthou agter die beeld van mediese personeel is daar ’n mens nes hulle.”

Volgens De Nobrega is van die grootste frustrasies vir verpleegpersoneel die baie pasiënte veral by ’n hospitaal soos Vredenburg, wat ’n groot streek bedien. Sy meen egter in die lig van dié uitdaging is dit belangrik vir bestuurders om hul kollegas te ondersteun. “Dit is die bestuur se werk om hulle te herinner en te sê ja, jy gaan 100 pasiënte in drie uur moet sien, maar onthou jou eed en beloftes. Alle verpleërs het hul loopbaan begin met die doel om ’n verskil te maak. Hierdie is opwindend, hoewel fisiek en emosioneel uitputtend, maar ook verrykend vir die siel. Dit is gewis ’n lewenswyse.”

Sy sê enigiemand wat ’n verpleër wil word moet onthou – waar dokters in die wetenskap van genesing spesialiseer, moet verpleërs ook sorg aan hul pasiënte bied.

“Om ’n verpleegster te wees, is nie net om bedpanne aan te dra nie – dit is die mense wat ’n pad met jou sal stap.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025