Afrikaans mag wel gebruik word vir die aflê van verklarings by die Wes-Kaapse polisiediens. Dít is deur lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, aan Kaapse Forum bevestig.
Kaapse Forum het aan Patekile geskryf nadat die polisie in die Noord-Kaap bevestig het dat hy wel Afrikaans as dienstaal sal aanbied indien dit verlang word. Die organisasie wou ook duidelikheid hê oor die gebruik van Afrikaans in Wes-Kaapse polisiekantore.
Volgens artikel 6(3)(1) van die Grondwet moet provinsiale regerings ‘n minimum van twee amptelike tale gebruik wanneer hulle met die publiek te doen het. Patekile was dit eens met Kaapse Forum dat die publiek ‘n amptelike taal waarmee hulle gemaklik is, mag gebruik wanneer hulle verklarings aflê. Volgens Patekile is Engels slegs die “werkstaal” van die polisie en is die
gebruik van Engels slegs op polisielede van toepassing en nie op die publiek nie.
Tydens ‘n PanSAT-konferensie in Maart vanjaar is onder meer gesê ‘n risiko bestaan dat feite verdraai kan word en dit kan lei tot regsverydeling indien verklarings in Engels afgeneem word deur polisielede wat ‘n ander moedertaal het. Dit kan ook daartoe lei dat geregtigheid uiteindelik nie kan geskied nie.
“Dit is bemoedigend dat ‘n skriftelike waarborg nou vir die gebruik van Afrikaans by polisiekantore in die Wes-Kaap bestaan. Afrikaans en sprekers van ander tale moet die geleentheid gegun word om misdade tot die beste van hul vermoë aan te meld,” sê Bernard Pieters, die hoof van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.

