Die verhoor van twee Vredendal-Noord-mans wat van bedrog met padwaardigheidsertifikate aangekla word, is in volle gang.
Die staat het, volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag, vandeesweek die getuienis van die ondersoekbeampte, die bestuurder van die Matzikama-verkeersafdeling, en nog ’n staatsgetuie gelei.
Andre Dirkse (41), wat ten tyde van die beweerde bedrog ’n voertuiginspekteur by die Vredendal-verkeersafdeling was, en Rayven Renaldo Karstens (34), destyds ’n motorvoertuigverkoopsassistent by die Brand-motorgroep in Vredendal, is al in 2018 in hegtenis geneem.
Die polisie se eenheid vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad, die Valke, het hulle vasgetrek en aangekla van korrupsie en bedrog in verband met oortreding van die Nasionale Padverkeersregulasies van 2000 en die Nasionale Verkeerswet, Wet 93 van 1996.
Die staat voer aan dat hulle betaling van kliënte aanvaar het wat die Matzikama-munisipaliteit toekom deur voor te gee dat voertuie ondersoek en getoets is voordat ’n padwaardigheidsertifikaat uitgereik is.
Dirkse en Karstens het glo saamgewerk om mense uit te soek wat hul voertuie padwaardig verklaar wou hê sonder dat die voertuie aan die wettige ondersoeke en toetse vir padwaardigheid onderwerp word.
Karstens het dan ’n fooi van tussen R900 en R1 500 per voertuig geëis. Hierna het hy glo vir Dirkse gekontak en van die spesifieke voertuie se besonderhede voorsien. Dirkse het dan glo voorgegee dat die voertuie padwaardig is, sonder dat die voertuie enigsins ondersoek, ontleed of getoets is en sonder dat dit aan die nodige regulasies of wette voldoen.
Volgens die staat het mense Karstens tussen Oktober 2017 en Maart 2018 bedrae van R900, R1 200 en R1 500 betaal sodat onder meer ’n Ford Bantam-bakkie, ’n Ford Lazer, ’n Nissan Sentra en ’n Toyota Conquest valslik as padwaardig gesertifiseer kon word.
Dirkse het na bewering al die voertuie gesertifiseer en voorgegee dat die nodige stappe in die padwaardigheidsproses gevolg is.
Dirkse het glo vervolgens aan die Matzikama-verkeersafdeling voorgegee dat die voertuie behoorlik by die verkeersafdeling se toetssentrum getoets is en dat die voertuie meganies goed daar uitsien.
Die staat voer aan dat Dirkse deeglik bewus was dat die voertuie nié die padwaardigheidstoets ondergegaan het nie en dat die voorgeskrewe prosedures nie gevolg is nie, en sodoende dus bedrog gepleeg het.
Dirkse en Karstens se onwettige, oneerlike en ongemagtigde optrede het gelei tot die agt aanklagte van korrupsie en vyf van bedrog teen hulle.
Albei beskuldigdes ontken dat hulle geld wederregtelik, onregmatig en opsetlik ontvang het.
Dirkse was ten tyde van sy inhegtenisneming nog die verkeershoof by die Cederberg-munisipaliteit. Die saak is tot 29 September uitgestel.