Die Salkoriane-atletiekklub het verlede Saterdag (12 Oktober) ’n heerlike 5 km-pretdraf aangebied.
In baie goeie weersomstandighede het die atlete weggespring om die 5 km-pretdraf af te lê. Atlete van so ver as Atlantis en Darling het die dag bygewoon. Lede van die Velocity-atletiekklub het ook hul vernuf teen die plaaslike atlete van Langebaan-atletiekklub getoets.
Divano Fallett van Langebaan-atletiekklub het eerste in ’n tyd van 13:47 klaargemaak, terwyl Duren Nieholtz van Langebaan Strandlopers dit in 19:11 kafgedraf het.
In die vroue-afdeling was dit die vroue van Velocity-atletiekklub wat koning gekraai het en eerste oor die eindstreep is, met Jaydee Warnick (Velocity) in die eerste plek, Jornay van Renen (Velocity) tweede, Tracy-lee van Wyk (Velocity) derde en Sandra Bester van Langebaan Strandloper vierde.
Die klubbestuur bedank almal wat ’n bydrae gemaak het tot die wenpryse.