Die plaat voertuie van die polisie, verkeer, wetstoepassing, sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte op die hoek van Hoofstraat en Saldanhaweg in Vredenburg het motoriste Vrydagoggend 23 Augustus nogal laat kopkrap.
Dit was egter net ’n reuse-bewusmakingsveldtog met in die plek van boetekaartjies net sakkies met inligtingspamflette wat aan verbaasde motoriste uitgedeel is – saam met ’n vriendelike goeiemôre en hartlike seënwense vir die dag.
Pamflette is uitgedeel met bruikbare, praktiese inligting oor onder meer hoe om ’n woning vir ’n storm en sterk wind voor te berei, wenke oor padveiligheid, hoe om ’n verkeersirkel te gebruik en wat gebeur met dronk bestuurders wat toegesluit word.
Volgens Sammy Springleer, ondervoorsitter van die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), was dit ’n veldtog om mense weer te laat let op wat om hulle aangaan én ’n hartroerende vertoning van gemeenskapsolidariteit.
Die Vredenburg-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het kragte gesnoer met die polisie, verkeersdepartemente, wetstoepassing, gemeenskapsorganisasies, buurtwagte en verskeie sekuriteitsmaatskappye om positiewe verhoudings tussen wetstoepassingsdienste en die gemeenskap te bevorder.
Vrywilligers en beamptes het bymekaargekom om met inwoners te skakel en net ’n klein blyk van waardering te bied.
Buurtwaglede van Esperia, Oudorp en Louwville het met hul glimbaadjies deelgeneem en Alex Alarms het ook personeel en voertuie beskikbaar gestel om met die veldtog te help.
’n Groep personeellede van Siyabonga het al vroegoggend reggestaan om heerlike sop en koffie te voorsien.
Springleer reken tussen 250 en 300 lede van die publiek het sop en koffie gekry en die wetstoepassingsbeamptes wat deelgeneem het, was sowat vyftig.
“Dit is die eerste keer dat ’n veldtog op so ’n groot skaal gehou word.”
Jean Retief, voorsitter van die Vredenburg-GPF, het spesiale dank betuig aan Gert van Rooyen van High Speed Security wat as projekkoördineerder opgetree het, en Joey Pieterse, veiligheidskoördineerder by die Saldanhabaai-munisipaliteit.