Weslander-lesers kan dié datum in blou aanteken – Weskus-sééblou.

Die Gereformeerde kerk Vredenburg-Saldanha bied op Saterdag 5 Julie ‘n Kos-en-wingerdfees in die Velddrif-stadsaal, Voortrekkerstraat 99, Velddrif, aan.

Op dié dag eindig die Bergrivier-kanomarathon ook in Velddrif en die dorp gaan dus kook – figuurlik, natuurlik – van al die bedrywighede.

By die fees self sal besoekers hulle aan die uitstallings van hoë gehalte-kos- en wynprodukte van verskeie bekende verskaffers in die streek kan verlustig. Dit sluit kaas-, wyn- en jenewer-proe in. Heerlike geregte sal ook beskikbaar wees, soos kerrie en rys, vetkoek en maalvleis, spitbraai-skaapvleis, slaaie, pannekoeke, poedings en heelwat meer om die feesgangers se honger te stil.

Koffie- en teedrinkers sal natuurlik ook geholpe wees.

Gaan Groot Radio, die grootste Afrikaanse internet-radiostasie in die wêreld, sal op die dag die feesmusiek verskaf en die aankondigings doen om die feesgangers se aandag op die unieke verkope en winskopies te vestig.
Die Gereformeerde kerk Vredenburg-Saldanha se gemeentegrense strek van Darling en Yzerfontein tot by Velddrif, Aurora, Piketberg en Moorreesburg. Die gemeente beplan om die fees ‘n jaarlikse instelling te maak en homself daardeur ook aan die breër geloofsgemeenskap van die streek bekend te stel.
Besoek gerus die fees se webtuiste by Kos- & Wingerdfees 2025 vir nog inligting, volg die fees op Facebook of bel die feesorganiseerder, Riana de Beer, by 079 960 9942 met enige navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 November 2025
    Weslander E-Edition – 6 November 2025