Die Velddrif Sakekamer het Donderdag 18 Februarie sy algemene jaarvergadering sowel as sy besigheid van die jaar-toekenningsaand gehou.
Die funksie het by die Port Owen-seiljagklub plaasgevind.
Chris van Niekerk, voorsitter van die Velddrif Sakekamer, het verwys na die uitstekende groei wat die sakekamer se ledetal vanjaar getoon het, maar gewaarsku daar sal steeds hard gewerk moet word om die ledetal (61 ondernemings) daar te hou.
“Daar is baie potensiaal om te ontgin in hierdie dorp,” het Van Niekerk die sakekamer aangemoedig om nog meer aktief te wees.
Van Niekerk was ook vol lof vir die samewerking van Bergrivier-munisipaliteit (BM), Laaiplek-polisie, Bergrivier Toerisme en Cape Nature, wat almal die sakekamer vanjaar met verskeie projekte bygestaan het.
Sandra Crafford, onderburgemeester by die BM, was die gasspreker by die geleentheid.
Crafford het die Velddrif Sakekamer gewaarsku dat die BM se grootste uitdaging steeds die manier is waarop dit gefinansier word, maar het ook melding gemaak van die goeie vordering wat die BM die afgelope paar jaar gemaak het rakende kommunikasie met die publiek danksy pamflette, koerante en nuusbriewe.
Sy het ook verwys na verskeie projekte wat die BM vir Velddrif beplan.
Die projekte sluit in behuising in Watsonia- en Albatrosstraat, plaveiselwerk by die plaaslike kliniek en ’n informele handelsterrein by die ingang van die dorp van Dwarskersbos se kant af.
Gedurende die verkiesing van die sakekamer se bestuur is Van Niekerk onbestrede tot voorsitter herkies.
Die topwenner was die Eigelaar Group of Companies wat as besigheid van die jaar in die korporatiewe sektor aangewys is. Stretchtents International is as opkomende besigheid van die jaar aangewys, terwyl Sunset Adventure Farm vir sy diens in die toerismesektor beloon is.
Monty van der Westhuizen, voormalige voorsitter van die Velddrif Sakekamer en huidige bestuurslid, het ook ’n sertifikaat ontvang as dankbetuiging vir sy jare lange diens aan die sakekamer.