Velddrif-sakekamer het Donderdag 23 April sy algemene jaarvergadering, sowel as sy Besigheid van die Jaar-toekenningsaand gehou.
Die funksie het by die Port Owen-seiljagklub plaasgevind.
Monty van der Westhuizen, uittredende voorsitter van die sakekamer, het die aand geopen en melding gemaak van die “goeie resultate” wat die sakekamer die afgelope jaar behaal het.
“Ons het vanjaar verskeie probleme aangespreek en party al opgelos,” het Van der Westhuizen gesê.
Van der Westhuizen het egter ook vir Bergrivier-munisipaliteit (BM) oor die vingers geraps weens sy “swak toeganklikheid,” veral in Piketberg.
Ná die opening deur Van der Westhuizen het Chris van Niekerk ’n praatjie rondom beroepsgesondheid in die werkplek gehou en is hy kort daarna as die nuwe voorsitter van die Velddrif-sakekamer verkies.
Neil Havenga is as sy ondervoorsitter verkies, met Lize Steyn wat as tesourier herkies is.
Irené van der Westhuizen, Marion Cole, Ewald van Wyk en Monty van der Westhuizen is as die ander lede van die bestuur verkies.
Verskeie individue en welsynsorganisasies is beloon vir die “uitstekende diens gelewer” in 2014. Hulle sluit in petroljoggie Beanco Davids, ontvangsdame Alicia Jaars, polisiebeamptes Johan Vermeulen en Philip Strumpher asook die boer Jan Kotzé, die FDSA Dienssentrum en die King’s Cross Versorgingsoord.
Erkenning is ook aan verskeie munisipale amptenare vir hul harde werk gegee.
Die groot wenner van die aand was egter Laaiplek Spar wat as Groot Besigheid van die Jaar in die korporatiewe sektor aangewys is. Burger and Dogs is as die Opkomende Besigheid van die Jaar aangewys, met First Resorts wat vir hulle diens in die toerismesektor beloon is.
Om die aand af te sluit, het die sakekamer twee rolstoele aan die King’s Cross Versorgingsoord geskenk