Altesaam 125 vroue het vanjaar se tweede Pinktober-borskanker-bewusmakingsveldtog bygewoon.
Pinktober 2024 is Saterdag (5 Oktober) by Paternoster Lodge gehou. Volgens Janice Mahoney, organiseerder van die veldtog en die geleentheid, het vroue van so ver as die Kaap en Vredendal die dag bygewoon. Die doel van die geleentheid was om vroue onder een dak bymekaar te bring en bewusmaking van borskanker te skep.
Dr. Rika Pienaar, ’n onkoloog van Cancercare Panorama en wat in borskanker spesialiseer, het die vroue ingelig oor die soorte kanker en inligting gedeel oor onder meer vroeë opsporing en die uitwerking daarvan, verskeie behandelings, die belangrikheid van ’n mammogram en die belangrikheid van ondersteuning aan borskankerpasiënte.
Die gasspreker vir die dag was die aktrise Crystal-Donna Roberts, wat self ’n pad met borskanker geloop het.
Volgens Mahoney het almal aan haar lippe gehang toe sy haar storie gedeel het.
“Sy het werklik ’n veilige atmosfeer geskep en vroue wat deur borskanker gaan, bemoedig. Die samevatting van dit alles was a hero has to go through change – iets moet verander in die held se uitkyk op die lewe, want dan is jy sterker as jy terugkom,” sê Mahoney.
Jill Snyman, die pasiëntesorg-bestuurder van die St. Helenabaai-Sandveld-hospies, het hul suksesstories met die gaste gedeel en agtergrond van hul palliatiewe sorg gegee. Geld wat ingesamel is, word aan die hospies geskenk.
“Die dag was gevul met baie emosies, maar dit het ook ’n veilige tuiste geskep vir die gaste om net te laat gaan en hulself te wees.”
Mahoney voeg by dat die Pinktober- borskanker-bewusmakingsveldtog ’n jaarlikse instelling sal word.
Sy bedank graag vir Be-dazzled Weddings, Events and Hiring, Paternoster Lodge, One Tough Cookies, Shaldine Hauzamer en Denise Hyster asook elke vrou wat die dag bygewoon het.