Raadslid Thyrone Williams oorhandig die memorandum oor aan Nomnikelo Gaika (WKOD kring bestuurder in Vredenburg).Foto:


Ouers van St. Helenabaai het hul ongelukkigheid uitgespreek oor die hoërskoolsituasie in die dorp.

Die ontevrede ouers het die afgelope Vrydag (23 Augustus) na Vredenburg se onderwysdepartement-kantoor opgeruk om ’n memorandum te oorhandig in verband met die bou van ’n hoërskool vir die leerders van St. Helenabaai.

Volgens die raadslid Thyrone Williams vra die gemeenskap die afgelope 20 jaar al vir die bou van ’n hoërskool – sonder sukses. In die memorandum dui Williams aan daar ry tans 14 busse elke dag na Vredenburg na die onderskeie hoërskole in die gebied. Williams meen die departement betaal miljoene rande vir busdienste terwyl die geld eerder gebruik kan word om ’n hoërskool te bou.

’n Ouer van St. Helenabaai, wat nie by name genoem wil word nie, sê die situasie is ’n sensitiewe een wat al ’n geruime tyd aankom en hulle verstaan nie hoekom hoërskole in ander gebiede behalwe in St. Helenabaai is nie. Ouers sê grond is in 2014 al goedgekeur vir die bou van ’n hoërskool, maar niks het sedertdien daarvan gekom nie.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, is ’n eiendom geïdentifiseer vir die potensiële toekomstige ontwikkeling van ’n hoërskool in St. Helenabaai. “Die perseel word tans deur die Wes-Kaapse regering verkry. Dit waarborg egter nie die onmiddellike ontwikkeling van ’n skool nie. Beskikbare geld, die betrokke munisipale dienste en beplannings- toestemmings moet ook verkry word. Dit moet alles ooreenstem voordat die ontwikkeling van ’n skool kan voortgaan. In hierdie stadium word nie vir die ontwikkeling van ’n nuwe hoërskool in St. Helenabaai as ’n nuwe skoolprojek binne ons mediumtermynbe­grotingsraamwerk begroot nie,” sê sy.

Die ouer vertel weens misdaad is leerders bang om skool toe te gaan en so ver vervoer te word. “Daar is nie plek vir leerders in skole nie en dit laat ons sit met baie kinders wat drop-outs is en betrokke raak by dwelms en misdaad – nie omdat hulle wil nie, maar as gevolg van geen plek in skole nie. Jy as ouer sit met daai vrees.”

Die ouer sê ook baie wil hul kinders se buitemuurse aktiwiteite en skoolverga­derings bywoon, maar het nie die luuksheid van vervoer na Vredenburg nie. “Met die bou van ’n hoërskool sal dit makliker en nader wees om al hierdie aktiwiteite by te woon.”

Hammond voeg by dat vervoer tans verskaf word vir leerders van St. Helenabaai om skole in Vredenburg by te woon. “Alle hoërskool-leerders van St. Helenabaai word deur hierdie busse na die Hoërskool Weston en die Hoërskool Louwville vervoer. Leerdervervoer bly ’n kostedoeltreffende alternatief in die kort termyn.”

Ouers meen hul pleidooi moet ernstig opgeneem word en die departement moet intree.

You need to be Logged In to leave a comment.