Van Rhynspas eis wéér lewens

Tien konstruksiewerkers is dood en 29 beseer toe ’n bus Maandag (2 September) deur die relings van die Van Rhynspas gebars en na benede getuimel het.


Tien konstruksiewerkers is dood en 29 beseer toe ’n bus Maandag (2 September) deur die relings van die Van Rhynspas gebars en na benede getuimel het.

Dié bergpas lê op die R27 in die Bokkeveldberge tussen Vanrhynsdorp en Nieuwoudtville en is net minder as 9 km lank.

Die oorledenes en beseerdes was vermoedelik uit die Noord-Kaap op pad terug na Ceres waar hulle by die bou van ’n windplaasaanleg vir Ibhayi Contracting betrokke was. Ibhayi het nie op navrae om die werkers se verbintenis met hulle of hul identiteit gereageer nie. Daar is op sosiale media gesê hulle is moontlik van Upington, Kenhardt en Keimoes.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisie, het gesê die ongeluk het net ná 17:00 gebeur. Die beseerde passasiers is na die Vredendal-hospitaal vervoer vir verdere sorg en behandeling vir beserings wat gewissel het van ernstig tot gering.

Isaac Sileku, die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, het gesê hul gedagtes en gebede is met die families gedurende die moeilike tyd. “Ons wil ook ons sorg en kommer uitspreek oor diegene wat beserings opgedoen het; ons is hoopvol vir hul spoedige herstel,” het Sileku gesê.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings­beplan­ning, het die noodwerkers wat vinnig en moedig op die voorval gereageer het, bedank. “Jul toewyding en onvermoeide pogings in sulke uitdagende omstandighede is werklik prysenswaardig,” het hy gesê.

Jaco Londt, die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, het verseker personeel van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling was ná die ongeluk onmiddellik beskikbaar om te bepaal of psigososiale ondersteuningsdienste benodig word. Hulle gaan saam met die polisie en die departement van gesondheid en welstand werk om waar nodig ondersteuning soos traumaberading te verskaf.

Hulle skakel ook met hul kollegas in die Noord-Kaap waarvandaan baie van die slagoffers kom.

Mireille Wenger, die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, het die heldhaftige pogings van die EMS-spanne, gelei deur Elvin Pedro en Charl Nieuwoudt, en dr. Earlin Ockhuis en sy toegewyde spanne in die Matzikama-subdistrik en by die Vredendal-hospitaal geprys.

“Hul onwrikbare toewyding en onvermoeide werk onder buitengewoon moeilike omstandighede was deurslaggewend in die verskaffing van sorg en ondersteuning aan diegene wat geraak is. Ons is dankbaar vir die absolute toewyding van ons professionele en mediese personeel in hierdie kritieke tyd,” het Wenger gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.