Inge-lee Pharo, ’n inwoner van Paternoster, het ingeskryf vir Mej. Suid Afrika 2023.Foto:


Inge-Lee Pharo, ’n boorling van Paternoster, het haar vir die 2023- Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf.

Pharo (23) droom al van kindsbeen af daaroor om dié gesogte titel te wen. Sy het lankal reeds begin werk maak daarvan en is op laerskool as Mej. Paternoster junior en weer op hoërskool, in 2015, as Mej. Paternoster senior aangewys.

Pharo glo haar grootwordjare was uniek in vele opsigte. “Buiten dat ons sekerlik in een van die mooiste plekke in Suid-Afrika woon, was die lewe in ’n groot mate baie ongekompliseerd. Ons laerskool, St Augustine, het ’n asemrowende uitsig oor die see. Boonop stap kinders steeds skool toe en is die inwoners soos een groot familie. Vandag dink ek dis wonderlik dat ons dorpie so ’n gesogte toeristebestemming geword het,” vertel Pharo.

Haar deeltydse modelwerk het haar onlangs tot op die loopplank by die Cape Town Fashion Week geneem, maar sy is ernstig daaroor om ook op ander maniere ’n verskil in die wêreld te maak.

Pharo werk tans deeltyds as bestuurder van korporatiewe projekte by Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Paternoster en beplan om haar in die toekoms as onderwyseres te bekwaam.

Haar spesiale projek, wat haar na aan die hart lê, is die insameling van sanitêre doekies vir skoolmeisies.

Twee versamelpunte is in Paternoster ingerig en sy werk volstoom daaraan om die projek met die hulp van korporatiewe vennote oor die hele Weskus uit te brei.

“Ek wil die wêreld wys dat sukses vanuit die onwaarskynlikste plekke kan kom en dat drome werklikheid kan word, ongeag waar jy vandaan kom,” voeg sy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025