Van houtklas tot spoggebou

Net buite Vredenburg, op Kleinplasie, verrys ’n pragtige nuwe gebou wat aanstaande jaar die tuiste van die Pikanini Bewaarskool gaan word.


Net buite Vredenburg, op Kleinplasie, verrys ’n pragtige nuwe gebou wat aanstaande jaar die tuiste van die Pikanini Bewaarskool gaan word.

Pikanini het in 2008 met net 12 kinders in ’n wendyhuis begin. Werkers van die Siyabonga Care Village op Kleinplasie het destyds gekla dat hulle nie bedags ’n heenkome vir hul kroos het nie en só is die crèche gebore.

Pikanini se maats het vinnig meer geword, want Chrisna du Plessis die stigter van Siyabonga, sê sy het besef daar is ’n groot tekort aan bekostigbare sentrums vir vroeë kinderontwikking van kleuters uit minderbevoorregte gesinne en ook weerlose kinders wat in moeilike huislike omstandighede leef.

Vandag versorg en leer Pikanini se personeel sowat 60 gelukkige kleuters in twee ingerigte wendyhuise en ’n gedeelte van ’n gebou by Siyabonga. Benewens Vredenburg en Louwville se kinders, huisves Pikanini ook woelwaters van Laingville in St. Helenabaai.

Die crèche verskaf self die vervoer.

Bouwerk het in Oktober verlede jaar begin nadat die loterykommissie geld vir die projek bewillig het. Pikanini Bewaarskool is een van Siyabonga se programme wat Du Plessis besonder na aan die hart lê. Die nuwe skoolgebou “is ’n droom wat waar geword het”, sê sy.

Pikinani Bewaarskool beplan om op 1 April 2018 by die nuwe gebou in te trek, maar intussen moet die klaskamers nog met meubels, toerusting, opvoedkundige leermiddels en speelgoed ingerig word.
. Mense wat graag tot hierdie verdienstelike saak wil bydrae, kan Du Plessis by 022 713 5730 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.