Die hengelaars Bertus Kruger en Pierre de Wit met die groot kabeljou.

‘n Groot vangs is nooit vir enige hengelaar te versmaai nie.

Pierre de Wit, ‘n eiendomsagent van St. Helenabaai het op Vrydag 3 Oktober ‘n bielie van ‘n Dusky-kabeljou van 1,9m en 72kg aan die Skedelkus, naby die Kunene- mond, inkatrol.

Pierre het die Kunene-toer die eerste keer in 2021 aangedurf en nie die grote gekry nie. Die volgende jaar toe sy vrou, Ada, saamgegaan het, het sy op 25 November 2022 háár groot vis van 32,63kg gevang, waarmee sy tans die rekord vir die Wild Skeleton Coast-toergroep hou.

Pierre ken Namibië van kinderdae af toe hulle as gesin gereeld in Namibië gekom het. Hy het sy liefde vir Namibië met Ada gedeel en sy het saam met hom die stille niks van die Namibwoestyn begin koester.

Oor sy groot vangs sê Pierre: “Wanneer jy so ‘n vis aan die lyn het, weet jy nooit of dit ‘n haai of ‘nkabeljou is nie – al twee laat sing jou katrol en swem amper jou spoel leeg”.

Die geweldige krag van die vis het hom heeltyd laat dink dit is ‘n groot bronzie-haai. “Die woorde wat deur my kop gemaal het, was . . . werk mooi met die vis en stel jou krag af totdat jy sien dis ‘n haai. Met die gestoei en alles wat so vinnig gebeur het, kon ek wel vasstel dat dit nie ‘n haai was nie. Toe die vis in die branders kom, was die helpende hengelaars in die branders tussen die vis en die see – dit is gewoonlik waar jy die ou grote op die laaste oomblik kan verloor. Dit was Ada gevolg deur Bertus Kruger van Upington wat vir my die grote in die water gaan vashou het.

“Dit is ‘n ongelooflike gesig om die vis in die water te sien. Dis ‘n voorreg om so ‘n vis te vang – iets wat jy gewoonlik net op swart-en-wit-foto’s sien wat in ou vissersdorp-hotelle hang,” vertel Pierre.

Pierre het as kind op Robbeneiland gewoon, waar sy liefde vir visvang begin het.

“In ons jong getroude dae was my bynaam die Visweduwee van Britanniabaai, want Pierre was altyd by die viswaters en later toe die kinders groter was, het ek meer geleentheid gehad om saam met Pierre sy liefde vir visvang te deel,” onthou Ada.

“Ons woon nou al 29 jaar in St. Helenabaai. Dis net in Namibië wat ons met die stok van die strand af hengel, maar plaaslik gaan ons met ons eie boot, Making Memories, gereeld see toe,” vertel Ada.

Vir die paartjie beteken dit baie om hierdie liefde te deel.

Die groot kabeljou is weer in die waters vrygelaat en beide Pierre en Ada glo vir die voortbestaan van die bron is dit belangrik dat groot broeivisse beskerm word sodat hul nageslag “ook die voorreg kry wat ons kan beleef”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025