Dit is vandag (Vrydag 19 April) twee maande sedert Joshlin Smith (6), ‘n graadeentjie by Diazville Primêr, spoorloos uit die Middelpos- informele nedersetting verdwyn het.

Hier volg belangrike gebeurtenisse in die soektog na haar:

Dinsdag 20 Februarie 2024 sal vir altyd “Dag Een” wees. Die dag waarop die hele Saldanha te hore gekom het dat ‘n kind spoorloos uit Middelpos verdwyn het.

Joshlin se ma, Kelly Smith (33), meld haar kind die vorige aand om 17:00 by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aan. Die skool en die Pink Ladies en verskeie ander instansies en individue vra op Facebook dat mense help uitkyk vir dié blonde kind met uitsonderlike grysgroen oë soos haar ma s’n. Haar foto trek wyd aandag.

Kelly en haar kêrel, Boeta Appollis, vertel aanvanklik dat Joshlin nie die dag skool toe is nie, want sy het “olik” gevoel. Hulle sê Kelly het gaan werk en Joshlin in Boeta se sorg gelos.

hokkie

Die gesin se hokkie staan reg langs ‘n varswaterstroompie met meer rou riool en rommel as water. Dit is hier waar Joshlin glo die laaste keer gesien is. Foto: Alida Buckle

Joshlin was volgens die eerste weergawe nie by die huis toe Kelly die Maandag van die werk af kom nie. Kelly raak glo teen skemer bekommerd toe Joshlin steeds nie opdaag nie.

Kelly vertel op Dag Een, ‘n ent van die hokkie af, aan Weslander dat Joshlin altyd in die aand eerste in die ry staan vir kos. Sy sê sy het dadelik geweet iets is verkeerd toe Joshlin nie teen aandete daar is nie.

Kelly Smith (33) voor die hokkie terwyl Boeta deur die polisie ondervra word.Foto: Alida Buckle

Die gemeenskap begin soek: fynkam die strate en hokkies, huise in Middelpos; soek op die duine, op die strand en in die veld; kyk in pype, maar daar is geen spoor van Joshlin nie.

snuffelhond

Die snuffelhond het ín die hokkie geblaf, maar om die hokkie nie ‘n spoor van Joshlin se reuk gekry nie. Die hond het reguit terug na die polisievoertuig toe gehardloop en ingespring. Foto: Alida Buckle

Die ondersoekspan sit met hul hande in die hare om die feite te onderskei uit die betrokkenes se uiteenlopende weergawes. Hulle ondervra eerste vir Kelly en Boeta. Ook Boeta se vriend, Steveno van Rhyn, en ‘n buurvrou, Renze Lombaard. Al vier staan vandag saam in die beskuldigdebank op aanklagte van ontvoering en mensehandel. Hulle verskyn weer in die Vredenburg-landdroshof op Maandag 13 Mei.

In die eerste week hou die gemeenskap onverpoosd aan om in groepe na Joshlin te soek.

Die Saldanhabaai-munisipaliteit laat die stroompie leeg pomp. Die slik en riool is so dig dat dit net tot op ‘n punt gepomp kon word.

Woensdag 21 Februarie val politieke partye met gesofistikeerde sosialemediatoerusting die Weskus in. Ook TikTokkers met bestaande aanhangers en aspirant beïnvloeders begin met verskeie regstreekse uitsendings.

Die polisieondersoek word belemmer met ‘n ongekende, onbehoorlike aantal vals “nuus”-berigte, ongeverifieerde “inligting” en bedenklike “bewysstukke”. Die letterlike vertrapping van moontlike leidrade en bewysstukke is ‘n situasie wat hom nog nooit op die skaal in die Weskus afgespeel het nie.

So word nie net die Weskus-gemeenskap nie, maar die res van die land die afgelope twee maande besig gehou met regstreekse uitsendings wat die gemoedere hoog laat loop en elke keer op niks uitloop nie – terwyl ‘n tenger kind steeds vermis word.

Sondag 25 Februarie word ‘n kerkdiens vir Joshlin gehou. Joshlin se verdwyning ontplof op nasionale en internasionale televisiekanale.

Dinsdag 27 Februarie. Die polisie verduidelik dat hulle élke leidraad moet volg wat die publiek aanmeld. Verskeie “sieners” wat “weet” waar Joshlin is kom mors kosbare tyd, en niks word gekry nie.

Kelly verskyn in ‘n regstreekse uitsending in ‘n Spur met haar negejarige seun en driejarige dogter.

Die polisie maak ook bekend dat Kelly en Boeta die leuenverklikkertoets geslaag het.

Woensdag 28 Februarie verskyn ‘n engelagtige wolk in die lug bo Middelpos.

Die Saldanhabaai-burgemeester, André Truter, vra in ‘n pleidooi vir versterkings van die Stad Kaapstad.

Die brief waarin die burgemeester, André Truter, vir versterkings in die soektog vra.

Donderdag 28 Februarie kom verskeie spesialis-eenhede van die Stad Kaapstad in Saldanha aan en ‘n gesamentlike operasiesentrum word opgestel.

Die polisiehelikopter vlieg oor Diazville.Foto: SAPD

‘n Helikopter van die polisie se lugvleuel neem aan die soektog deel.

Vrydag 1 Maart maak Reagan Allen, Wes-Kaapse provinsiale minister van gemeenskapsveiligheid en polisie-toesig, ‘n vlugtige draai by die Saldanhabaai-polisiekantoor en maak bekend dat ‘n Middelpos-man, ene Ayanda, ‘n klagte van ontvoering teen lede van die publiek geopen het wat hom onder protes weer na die polisiekantoor geneem het.

Saterdag 2 Maart maak Bheki Cele, die nasionale minister van polisie, ‘n Weskusdraai om te wys dat hy ook sy gewig agter die polisieondersoek instoot. Hy maak ook van die geleentheid gebruik om politieke volgelinge te besoek.

Sondag 3 Maart. Die polisie vra die publiek moet wegbly uit gebiede terwyl die polisie dit te voet deursoek. Hulle pleit ook dat mense nie sosialemedia-verklarings met misleidende inligting uitreik nie. Die provinsiale kantoor vir ernstige geweldsmisdrywe word in die saak ontplooi.

Die munisipaliteit kom haal ‘n sak met klere en bene uit ‘n rioolgat in Noorddamstraat, Diazville, nadat inwoners al sedert Joshlin se verdwyning daaroor gekla het. Die klere word net daar gelos.

Op Maandag 4 Maart fynkam altesaam 800 geregsdienaars die Diazville-Middelpos-gebied.

Die kaart van die gebied wat gefynkam is.

Dinsdag 5 Maart word vier verdagtes tussen die ouderdom 26 en 34 jaar aangehou vir ondervraging. Twee mans lê bekentenisse af. 

Donderdag 7 Maart verskyn Kelly, Boeta, Steveno en ‘n buurvrou van Middelpos in die Vredenburg-landdroshof op aanklagte van mensehandel en ontvoering. Daar word beweer dat Joshlin vir moetie aan ‘n sangoma verkoop is. Gemoedere loop hoog buite die hof.

almal in hof

Almal in die beskuldigde bank in die Vredenburg-landdroshof.

Op Woensdag 13 Maart word die aanklagte teen die buurvrou laat vaar en Kelly, Boeta en Steveno dui aan dat hulle nie om borgtog aansoek gaan doen nie.

Maandag 18 Maart verskyn Renze Lombaard, ook ‘n buurvrou, in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van ontvoering en mensehandel.

Renze Lombaard.Foto: Alida Buckle

Maandag 25 Maart. Renze Lombaard laat vaar haar borgtogaansoek. Haar saak word by dié van die ander beskuldigdes gevoeg.

Dié middag laat inwoners van Vinkstraat in Louwville, Vredenburg, die polisie kom. Verskeie inwoners en ‘n groep kinders sien hoe twee mans saam-saam ‘n swaar swartsak oor die spoorlyn dra en vermoedelik begrawe. ‘n Vrou wat haarself ‘n sangoma noem, beweer daar was appels in. Daar word rondgesoek, maar die soektog word laat vaar ten spyte daarvan dat die inwoners voet by stuk hou dat die polisie op die “verkeerde plek” soek.

Woensdag 27 Maart. Die forensiese afdeling van die polisie kom haal die klere wat in die riool gekry is en stuur dit weg vir toetse. Die uitslag sal in die hof bekendgemaak word.

Geen verdere leidrade of “wenke” lei tot op hede tot Joshlin se terugvind nie. Ook nie die deursoeking van ‘n skip by Londen of ‘n soektog op die duine langs Middelpos nie, of enige van die ander “wenke” wat die polisie verplig is om op te volg nie.

Op Sondag 14 April praat Cele by ‘n misdaad-imbizo in Hanover Park waar hy noem dat die soektog na Joshlin nou ook die aandag van internasionale polisie geniet (video: Rasaad Adams/Paarl Post).

Woensdag 17 April word kosbare polisietyd en hulpbronne asook dié van die munisipaliteit ingeroep deur ‘n man wat ‘n plek met “beendere” met ‘n draad aanwys. ‘n Laaigraaf kom gou op ‘n klipplaat af wat nog nooit deur ‘n mens versteur is nie. ‘n Kamera word sowat 200 m ver in ‘n stormwatersloot ingestoot, maar daar word niks gekry nie.

man wat beendere wys

Waardevolle hulpbronne en tyd is op Woensdag 17 April in Diazville agter die hoërskool ingespan ná die “wenk” van ’n man wat beweer hy kan beendere opspoor. Foto: Alida Buckle

Die kamera wat in ’n stormwaterpyp ingestoot is, kon ook niks vreemds opspoor nie.Foto: Alida Buckle

Die laaigraaf kon nie die klipgrond beweeg nie.

KYK: ‘n Samestelling van videos wat op verskeie datums tydens die soektog na Joshlin geneem is soos in die berig na verwys word.

  • Die bogaande tydlyn bied egter net ‘n oorsig oor hoe gebeure na die soektog na Joshlin die afgelope twee maande ontvou het. Hou Weslander dop vir enige verwikkelinge in die ondersoek na haar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025