Twee vroue is dood en vyftien mense beseer toe ’n taxibestuurder van Vredenburg tussen Nuwerus en Vanrhynsdorp vermoedelik beheer oor die voertuig verloor het.
Die 49-jarige Virna Botha (Fortuin) van Vredenburg en Elaine Rhodes (66) van Concordia in Namakwaland is op slag dood nadat die taxi Sondag (10 November) omstreeks 17:00 teen ’n vragmotor se sleepwa gebots het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, was die taxi op die N7 na Vredenburg onderweg. Die ander 15 insittendes het mediese behandeling ontvang.
Botha was ’n gewilde verkoopsassistent by Woolworths in Weskus Mall, wat met haar kenmerklike Namakwalandse aksent en grappies baie klante se harte gewen het. Sy het vroeër jare ook onder meer by Pep Stores en Mr Price in die dorp gewerk.
Rhodes se dogter, Esmeralda Bailey, wat in Paternoster woon, het gesê haar pensioenaris-ma was sowat twee jaar gelede ook in ’n ongeluk in ’n taxi van Macdonald Taxi’s van Vredenburg. Sy het onder meer twee ribbes gebreek en ’n kopwond opgedoen. “Sy was nooit weer dieselfde nie. Vóór die eerste ongeluk was sy ’n baie lewendige mens.” Bailey kon sien sy word gouer moeg en dat haar bors haar baie moeilikheid gee.
Malcolm “Milky” Macdonald, die eienaar van die taxi’s, het beaam dat Rhodes in Maart verlede jaar in een van sy taxi’s beseer is. Hy is opreg jammer oor die noodlottige ongeluk waarin die vroue gesterf het en het reeds persoonlik sy medelye met die oorledenes se families gaan betuig.
Macdonald sê hy het ook deur die nag by die beseerdes in die Vredendal-hospitaal gewaak en gehelp dat hulle uitgeplaas word na hospitale in die Kaap. Sy taxi’s het ook die insittendes wat uit die hospitaal ontslaan is, na hul bestemmings vervoer.
Hy het ook onderneem om die oorledenes se families na die hoofkantoor van die Kaapse Organisasie vir ’n Demokratiese Taxivereniging (Codeta) in Kaapstad te neem sodat reëlings getref kan word vir begrafnisbystand.
“Niemand vra vir ’n ongeluk nie. Dit gebeur en ongelukkig kan ons nie in die pad van die Here se werk staan nie. Oor wat gebeur het, is ek jammer.”
Yvonne Cloete, Botha se jonger suster, het vertel Botha is in Springbok gebore en Kharkams was van haar hoërskooljare af haar tuisdorp.
Sy was die oudste van drie susters en twee broers.
Botha was lief vir lees, veral romantiese verhale, maar sy het self ’n slag met woorde gehad, vertel Cloete. “Sy kon op skool baie goed opstelle skryf, maar het ongelukkig nie ’n beroep daarvan gemaak nie.”
Botha het in 2001 na Vredenburg verhuis, waarna Cloete en hul derde suster, Susan Sarels, hulle in 2002 by haar aangesluit het. Hoewel Botha nie kinders van haar eie gehad het nie, het sy ’n groot hart vir haar susterskinders gehad.
“Sy was so goed soos hul tweede ma. Sy was hul ‘Wiwwe’, soos hulle haar genoem het.”
Botha, wat pynlik netjies was met skoonmaakmiddels altyd eerste op haar inkopielys, het ook maar moeilike jare beleef, maar sy was nie iemand wat dit gewys het nie.
“By Woolworths het jy haar altyd met ’n smile gekry. Sy was baie lief vir haar werk en wou dit perfek doen.”
Sy het Cloete gereeld foto’s gewys oor hoe sy beplan het om die beddegoed en ander goedere in die huishoudelike afdeling uit te stal.
Cloete vertel hoe trots Botha altyd daaroor was dat haar bestuurders gesê het sy kan nie eintlik verlof kry nie, want haar afdeling “is in ’n toestand as sy nie daar is nie”. Sy het dit glo met so ’n klein bietjie spog in haar stem vertel. “Sy was net so lief vir haar kollegas – altyd stories vertel oor dinge wat by die werk gebeur het en hoe hulle mekaar se siele uitgetrek het.
Bailey het gesê: “My ma was my hele lewe. Sy was nogal reguit, maar sy was ’n baie liefdevolle mens.”
Rhodes was in die taxi om weer by Bailey in Paternoster te kom kuier. Sy het nog Sondagoggend vir Bailey vertel dat sy beter voel en opgewonde was om te kom help trek.
Dié ouma van vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders gaan gemis word. Sy word Saterdag in Concordia begrawe.
Botha word Saterdag 23 November in Kharkams begrawe. ‘n Troosdiens is op Donderdag 14 November in die Christian Workers International-kerk, op die hoek van Kwartel- en Robynstraat in Witteklip, Vredenburg, gehou.