Twee studente sterf Vrydagaand in motorongeluk by Vredenburg

Twee ma’s moes gisteraand magteloos toekyk hoe mediese personeel hul twee studentekinders behandel op die toneel van ’n motorongeluk net buite Vredenburg.


Twee ma’s moes gisteraand (Vrydag 23 Augustus) magteloos toekyk hoe mediese personeel hul twee studentekinders behandel op die toneel van ’n motorongeluk net buite Vredenburg.

Die ongeluk het omstreeks 20:00 op die gevaarlike kruising van die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) en die Weskuspad (R27) plaasgevind.

Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue (WCMR) het gesê Metro EMS het die oorledenes met hidrouliese toerusting uit die motorwrak haal. WCMR het met ’n ernstig beseerde Ashley Du Toit (21) na die Life West Coast-hospitaal gejaag onder gevorderde lewensondersteunende sorg. Dokters en verpleegpersoneel het alles gedoen wat hulle kon, maar sy het weens die beserings by die hospitaal gesterf.

Dylan Muller (19) is op die ongelukstoneel dood.

Volgens kapt. Tania Helfrich, Weskus-polisiewoordvoerder, het die voertuig waarin die oorledenes onderweg was tussen ’n vragmotor se kopstuk en sleepwa beland. Die vragmotor het van Velddrif se rigting af gekom en die oorledenes van Hopefield af.

ongelukstoneel

Die toneel gisteraand nadat ‘n motor onder ‘n vragmotor beland het naby Vredenburg. Foto: West Coast Medical Rescue

Die twee studente, na wat so ver vasgestel kon word, was vermoedelik verbonde aan Universiteit Stellenbosch. Hulle was op pad na Paternoster om by hul families vir die naweek daar aan te sluit. Familielede het mekaar op die ongelukstoneel onderskraag.

Helfrich het gesê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.

Vir meer besonderhede oor die voorval, lees volgende week se Weslander op Donderdag 29 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.