Twee skole word Sandveld Primêr

Die samesmelting van Redelinghuys Primêr en Redelinghuys Laerskool is Donderdag 1 April amptelik gemaak.


Die samesmelting van Redelinghuys Primêr en Redelinghuys Laerskool is Donderdag 1 April amptelik gemaak.

Die skool staan nou bekend as die Sandveld Primêre skool. Millicent Merton, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê die tussentydse skoolbeheerliggaam, wat uit vyf lede van die vorige Redelinghuys Primêr bestaan, en vyf lede uit die vorige Redelinghuys Laerskool, het op dié naam ooreengekom.

Die lot van die twee skole is al vir jare ’n kwessie. Merton bevestig dat die oorgang en verandering die gevolg van albei skole se onderbenutting is.

Debbie Schäfer, die minister van onderwys, het Donderdag 1 April die simboliese stapgeleentheid bygewoon waar die skole bymekaar gekom het.

Lede van die gemeenskap het sowat 500 m van die primêre skool na die laerskool, waar die nuwe skool sal wees, gestap. Merton sê Schäfer het die sleutels ontvang om die hekke van die skool oop te sluit en die geleentheid het vlot verloop.

Schäfer sê dit was ’n historiese geleentheid toe die twee skole in die dorp bymekaar gekom het om een te word.

“Die twee skole is ’n oorblyfsel van die Apartheidstydperk – een bedien slegs sowat 40 leerders, waarvan die helfte per bus van Kaapstad af kom. Die meerderheid van die gemeenskap blyk baie gelukkig met hierdie samesmelting te wees. Ek wens die nuwe skool ’n baie suksesvolle, verenigde toekoms toe,” het Schäfer gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.