Plattelandse streke en dorpe het alles wat nodig is vir ’n vooruitstrewende ekonomie indien genoegsame ondersteuning aan inwoners gebied word.
Dit is die mening van James Vos, DA-skaduminister van toerisme, wat Maandag 14 Maart West Coast Way se twee nuwe toerismeroetes meegemaak het.
Vos was deel van ’n groep toerisme-rolspelers wat die bekendstelling van die Scenic- en Bergroetes bygewoon het.
West Coast Way is ’n toerismebemarkingsorganisasie wat veral op die Weskusstreek fokus.
Die nuwe Scenic-roete sluit onder meer Yzerfontein, Darling Brew, Malmesbury, Hopefield en Koringberg in. Die bekendstelling vir dié roete is Maandagmiddag by die brouery op Darling gehou.
Die Bergroete bied besoekers die kans om dorpe soos Velddrif, Piketberg, Eendekuil en Redelinghuys te besoek. Dié roete is vroeër die oggend in die Piekenierskloof Bergoord bekendgestel.
Volgens Carmen Lerm, stigter van West Coast Way, is die hoop dat die nuwe roetes toerisme sal bevorder en plaaslike besigheid ’n hupstoot gee.
Vos voeg by dit sal help om plaaslike plattelandse ekonomieë aan te wakker.
“Meer mense trek na stede op soek na werksgeleenthede en die werklikheid is daar is nie genoegsame werk vir almal nie.
“Toerisme is die uitweg, want alle dorpe het iets wat hulle uniek en aantreklik maak. Dié eienskappe moet met behulp van bemarking uitgelig word,” sê Vos.
Die skaduminister voeg by ondersteuning deur die regering kan inwoners help om hul tradisionele broodbakkery of bierbrouery – soos in die geval van Darling Brew – op die been te bring.
Darling Brew-eienaar, Kevin Wood, het Maandag vertel hoe belangrik plaaslike besighede is.
“Dit is nie maklik nie. Banke is nie bereid om te belê in klein besighede nie, selfs met ’n handelsmerk soos ons s’n. Gelukkig raak mense meer bewus van waar hul produkte vandaan kom en wie dit maak – dit bied integriteit en dit geld of jy boer, brood bak of kaas maak,” sê hy.
Vos sê toerisme is nie eenvoudig ’n manier om te ontspan nie, maar ook ’n manier vir Suid-Afrikaners om hul stories uit te ruil.
“Deesdae is daar so baie negatiewe, rassistiese dinge, maar dink net hoe wonderlik dit sal wees as ons meer van mekaar se kultuur en lewens kan leer. Dit is ’n praktiese manier hoe maatskaplike samehorigheid bewerkstellig kan word.”