Die water van Saldanhabaai het Saterdag (5 Oktober) twee mans wat vermoedelik verdrink het, teruggegee.
Onder watter omstandighede Ntokozo Buso (48) en Webster Valentyn (30) egter aanvanklik in die water beland het en óf die oorsaak van hul onderskeie sterftes wel verdrinking was, is waarop die polisieondersoek nou fokus.
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisie, het gesê Valentyn se lyk is Saterdagmiddag omstreeks 13:30 by Pepperbaai uit die water gehaal. Hy is vermoedelik van Diazville, Saldanha.
Buso se lyk, wat na alle aanduidings langer in die water was, is by Sea Harvest nie ver daarvandaan nie uit die water gehaal. Dit is nie duidelik of hy plaaslik gewoon en gewerk het, of net vir die naweek hier gekuier het nie.
Daar word vermoed dat hy vir die vissersboot, die Amalia, gewerk het, maar teen die tyd dat die koerant drukkers toe is, was dié besonderhede nog nie bevestig nie.
Anthea Abrahams, ’n woordvoerder vir Sea Harvest, het wel bevestig dat hy nié vir Sea Harvest gewerk het nie en dat sy lyk blykbaar uit die water gehaal is langs die kaai waar private vaartuie vasmeer.