Twee kinders wat in ’n plakkershut by Moorreesburg vasgekeer is nadat dit aan die brand geslaan het, het doodgebrand en die een se ma en ’n eenjarige baba het erge brandwonde opgedoen.
Kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het bevestig die voorval het Sondagaand om 23:40 in die Fairview-informele nedersetting gebeur.
Wilfred Kanka (5) en Jaden September, sy 12-jarige vriend wat die aand by hom kom oorslaap het, kon nie hulself uit die hut bevry nie.
Wilfred se ma, Narien Kanka en haar eenjarige baba het met brandwonde uit die hut gevlug. Hulle sterk tans in die Swartland-hospitaal in Malmesbury aan.
Helfrich het gesê die oorsaak van die brand kon nog nie bepaal word nie.
Die uitslag van die oorledenes se lykskouings wat op Dinsdag 19 Desember gedoen is, sal eers in die nuwe jaar beskikbaar wees.
Narien kon nog nie met speurders gesels nie, dus is haar ouderdom nog onbekend.

