Die strydbyle is behoorlik uit oor ‘n omstrede plan om ‘n spesiale heffingsgebied (SRA) in Paternoster te vestig.
Hoewel ‘n loodskomitee reeds vyf van tien stappe in die stigtingsproses voltooi het, is daar ‘n groep beswaarmakers wat dit beveg en reeds ‘n amptelike versoekskrif aan die Saldanhabaai-munisipaliteit oorhandig het. Daarin word versoek dat die huidige proses van die bestaande loodskomitee opgeskort word, hangende ‘n volledige nakomingsondersoek.
Volgens dié groep bestaan ernstige kommer oor die stigting van die voorgestelde SRA. Die versoekskrif verwys na onder meer moontlike prosedurele en regskomplikasies, ‘n gebrek aan deursigtigheid, beperkte inligting wat doeltreffende openbare deelname bemoeilik het en bewerings dat persoonlike inligting van inwoners sonder hul toestemming gebruik is.
Volgens dr. Naomi le Roux, een van die versoekskrif se ondertekenaars, glo hulle die proses moet deursigtig, regverdig en feitelik korrek wees.
“Ons memorandum het ten doel om te verseker dat inwoners se regte gerespekteer word en dat goeie bestuurspraktyke gehandhaaf word – nie om ontwikkeling te stuit nie,” sê Le Roux.
Die groep beskuldig die plaaslike regering nou van die verspreiding van “feitelike waninligting” ná ‘n onlangse berig in Weslander (“Kommer oor spesiale heffingsgebied”, 25 September) oor die omstrede SRA. Volgens die groep het hulle op 28 September ‘n formele skrywe aan die SBM gerig, waarin die munisipaliteit se onlangse uitsprake in Weslander ten sterkste weerlê word.
SBM het in antwoord op Weslander se navrae oor die kwessie onder meer gesê hy het kommunikasie slegs van ‘n individu ontvang. “Die groep wil beklemtoon dat die SBM se bewering duidelik onwaar is,” sê die groep.
Volgens hulle is die versoekskrif nie ‘n individuele klagte nie, maar ‘n kollektiewe proses deur 200 inwoners, wat ‘n petisie onderteken het. “Geen terugvoer of kommunikasie is tot dusver van die SBM ontvang nie. Ons spertyd van 17 Oktober vir ‘n skriftelike reaksie van die SBM is ook nie nagekom nie.
“Ons beskou dié stilswye as ‘n ernstige prosedurele en bestuursversuim,” sê die groep. Volgens die groep gaan hulle die saak formeel na die provinsiale regering in Kaapstad neem indien die SBM nie teen 4 November amptelik op hul aanvanklike versoekskrif reageer nie.
Volgens Michiel van den Berg, ‘n woordvoerder vir die beoogde SRA se loodskomitee, heers teenkanting sowel as steun vir die spesiale heffingsgebied.
“Die grootste redes vir die teenkanting is ‘n onwilligheid om die verpligte maandelikse heffing te betaal en die wanvoorstellings en vals bewerings, wat in die gemeenskap versprei is uit onkunde oor die konsep en werking van ‘n SRA,” sê Van den Berg.
Volgens hom is ‘n SRA ‘n volhoubare meganisme om werklike, sigbare en langdurende verbeterings ten opsigte van die veiligheid en netheid van die hele dorp te bereik. “Die loodskomitee het met vergaderings met groepe in die gemeenskap begin terwyl ‘n openbare vergadering met eiendomseienaars, inwoners en ander belangstellendes in die dorp se Gemeenskapsentrum in die nabye toekoms beplan word.
Die stemproses vir die beoogde SRA sal ná die openbare vergadering begin en ‘n meerderheidstem van 60% sal nodig wees. Alle stemme sal onderhewig wees aan onafhanklike ouditering om te verseker dat die stemproses wettig, deursigtig en akkuraat is,” sê Van den Berg.
Die SBM het teen druktyd nog nie op ‘n epos-navraag van Weslander gereageer nie. Weslander wou onder meer weet of die SBM volstaan by sy vroeëre terug- voer rakende die SRA-aangeleentheid in Paternoster, en hoekom die munisipaliteit nie op die groep se sperdatum in die versoekskrif reageer nie.


