Die bedanking van raadslid Audrey Small van wyk 6 in die Bergrivier-munisipaliteit het tot ‘n tussenverkiesing gelei.

Kandidate van vier verskillende politieke partye staan in die verkiesing en hoop om die wyk oor te neem. Hulle is (volgens hul vanne in alfabetiese volgorde):

• Reginald Heinrich Daniel Carolus (38) vir die Patriotic Alliance (PA);

• Rhime Louis Laubscher (49) vir die Demokratiese Alliansie (DA);

• Felicia Dianne Lottering vir die African National Congress (ANC); en

• Bahle Sikhuni vir die Economic Freedom Fighters (EFF).

Carolus (PA) sê hy sal beter infrastruktuur en ontwikkeling vir Noordhoek en Velddrif teweeg bring as hy wen. Daarmee saam wil hy werkskeppingsprojekte vir die gemeenskap aanpak. “Ek sal graag waardigheid by ons mense wil koester en die munisipale diensleweringstelsels verbeter om ons mense beter te dien en meer bekostigbare munsipale dienste bewerkstellig.”

Carolus is ook van plan om behuising en entrepeneurskapsprojekte te begin om agterplaasbewoners van hul jare lange smagting na ordentlike behuising en hul eie ondernemings te besit – veral Noordhoek en Aurora – te verlos. “Ek sal seker maak dat ons mense in die hele Velddrif-omgewing baat vind by die begroting wat oorwegend in Piketberg bestee word, dat ons mense nie agtergelaat word nie.”

Laubscher (DA) sê sy prioriteite is groter samewerking met die plaaslike polisie, beter straatligte en die ondersteuning van buurtwagte. As hy wen, wil hy ook aandag aan jeug- en sportontwikkeling skenk, soos opgeknapte sportgeriewe, wat geleenthede vir jong talent en ‘n aktiewe leefstyl sal bevorder.

“Ek wil nasorgprogramme, leerondersteuning en toegang tot digitale hulpmiddels instel, asook toeganklike gesond- heidsorg. Ons kan deur gemeenskapdeelname deursigtige en gereelde terugvoer-vergaderings hou.”

Lottering (ANC) wou nie kommentaar lewer oor die tussenverkiesing nie en die EFF kon nie voor druktyd meer besonderhede oor Sikhuni verskaf nie.

• Spesiale stemme sal op Dinsdag 22 Julie van 08:00 tot 17:00 plaasvind, terwyl inwoners op Woensdag 23 Julie van 07:00 tot 21:00 sal kan stem.

Die stemlokale is by die Aurora- en Noordhoek-gemeenskapsale en die Dwarskersbos-woonwapark. Kiesers moet stem waar hulle geregistreer is.

Reginald Carolus, die kandidaat vir die PA.
Rhime Laubscher, die DA se kandidaat.
Rhime Laubscher, die DA se kandidaat.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025