Sondag 12 Oktober is Nasionale Tuinmaakdag – ’n dag waarop almal met ’n liefde vir groen vingers hul grawe, gieter en sonhoede uitpluk om die aarde te vier. Weslander het gaan inloer by die formidabele tuinspan van die Weskus-tuinbouklub. Hierdie entoesiastiese groep tuinliefhebbers glo dat tuinmaak meer as net ’n stokperdjie is – dit is ’n manier van leef, rus vind en teruggee aan die natuur.

Voorsitter Elsabe Kruger, wie se huis as’t ware ‘n groen oase is, sê haar geheim lê in eenvoud en volhoubaarheid. “Ek maak my eie kompos van oorskietkos en tuinafval,” vertel sy met ’n glimlag.
“Dis ongelooflik hoeveel voeding die aarde teruggee, wanneer jy haar reg behandel.”
Elsabe se welige grasperk en kleurvolle blombeddings getuig van jare se toewyding. Sy moedig ander aan om nie bang te wees om hul hande vuil te kry nie.

“Begin klein,” stel sy voor. “Enige plant sal met liefde en versorging groei. Plant iets wat jy liefhet – selfs al is dit net kruie op ’n vensterbank. Elke plant bring lewe.”
Met die lente in volle swang en die Weskus se weer net reg vir groei, nooi die Tuinbouklub almal uit om saam te kom plant, leer en vier, want, soos Elsabe mooi afsluit: “’n Tuin is nooit klaar nie – dis ’n lewende storie wat elke dag verder groei.”

Erna du Plessis, een van die stigterslede, vertel dat die klub 24 jaar gelede klein begin is met net ’n handjievol tuinliefhebbers. Vandag het dit gegroei tot ’n dinamiese groep wat volgende jaar hul 25ste bestaansjaar sal vier. “Ons is ’n groep mense wat lief is vir tuinmaak, lief is vir die natuur en ons leer met elke vergadering baie oor volhoubare tuinwenke,” sê Erna.
Die klub het die afgelope jaar vergaderings by Koppiki Klets in Saldanha gehou, en vroeër vanjaar het hulle ’n uitstappie na die Kirstenbosch Botaniese Tuin geniet – ’n hoogtepunt vir enige tuinentoesias.

Erna vertel trots van haar ‘Blessing Bos’ – ’n pragtige speldekussingbos wat sy met liefde versorg.
“Ek pluk gereeld van die speldekussingblomme af en gee dit as geskenke. Dis my manier om ander te seën met iets wat uit my tuin kom.”
Met so baie inspirasie en passie onder die Weskus se tuinliefhebbers, is dit duidelik dat Tuinmaakdag nie net oor plante gaan nie – dit is oor menswees, gemeenskap en die eenvoudige vreugde om iets te laat groei.



You must be logged in to post a comment.