Tristan Von Willingh, ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Diazville het die hulp van die gemeenskap nodig.
’n Rare siekte, Guillain-Barré-sindroom is vroeër die jaar by Tristan, wat ook ’n inwoner van Diazville is, gediagnoseer.
Guillian-Barré-sindroom is ’n toestand waar die immuunstelsel die senuwees aanval. Hierdie siekte kan veroorsaak word deur ’n akute bakteriële of virale infeksie. Simptome is onder meer swakheid en tinteling in die voete en bene.
Volgens sy ouma, Saartjie Von Willingh, het haar kleinkind in Junie begin siek word. Sy vertel aan Weslander dat sy haar glad nie gesteur het aan die dinge en voorspellings van mense nie, maar bly vashou het aan haar geloof van die begin af en steeds vas glo dat die Here hom sal genees. “Daar het ook baie ander gebede vir hom uitgegaan,” vertel sy.
Tristan was eers in die Vredenburg-provinsiale hospitaal opgeneem en toe na Somerset-hospitaal oorgeplaas. Hy is later in Julie na Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas, waar hy tans nog behandel word. Omdat Tristan in die hospitaal en kilometers van sy familie is, veral van sy geliefde ouma, is dit finansieel moeilik vir haar om hom weekliks te gaan besoek, vertel sy. “Hy wil so graag huis toe kom en het vir my gesê hy verlang vreeslik na my. Maar ek moes vir hom verduidelik dat ek nie al die masjiene en mediese toerusting by die huis het om hom te versorg nie.”
Saartjie erken dat sy net so baie na Tristan verlang en dat hy baie vir haar beteken.
Tristan het baie goed nodig en die hulp van die gemeenskap sal baie vir hom en sy familie beteken. Van die goed wat hy benodig, is onderklere, toiletware, slaapklere en nog meer. Enige finansiële hulp wat dit makliker vir Saartjie sal maak om haar kleinseun te besoek, sal ook welkom wees.
Hoërskool Diazville se skoolhoof, Paul Haricombe sê die skool gaan alles in sy vermoë doen om Tristan deur die uitdagende tyd te ondersteun en wens hom ’n spoedige herstel.
Om enige donasies te maak, kontak die skool by 022 714 1909.