Leerders van Topolino Privaatskool op Langebaan het onlangs hul klere wat te klein geraak het aan die behoeftige leerders van ’n plaasskool geskenk.
Leani Redelinghuys, ’n leerder van Topolino, het dit haar liefdadigheidsprojek gemaak om skoolklere van haar maats en skoolklerebank bymekaar te maak sodat die kinders van Wakkerstroom-Oos naby Bonnievale eenvormige somers- en wintersdrag kan hê.
Om die Topolino-drag in Wakkerstroom-Oos-drag te verander, moes die skoolwapen deur ’n materiaallappie verbloem word. Lenie de Coning het haar omkapmasjien daarvoor geskenk en die Topolino-skoolklere is sommer in ’n japtrap omtower in Wakkerstroom-Oos-trots.
Om hierdie pragtige klere te kon ontvang, moes leerders van Wakkerstroom-Oos die rommel in hul strate optel. Die talle dankiesêbriefies wat deur Wakkerstroom-Oos se leerders en ouers aan Topolino geskryf is, spreek van opregte waardering.