Saldanha Tigers het Saterdag in die Swartwes-streekuitdaagwedstryd van Boland Rugbyunie die voorlopers, Voorberg RVK, in ’n baie harde wedstryd op Diazpark met 32-29 geklop.
Die tuisspan het vyf drieë teenoor vier gedruk.
Voorberg het uit die staanspoor gewys hoekom hy die voorloper in die kompetisie is. Hy het met briljante rugby vorendag gekom en die tuisspan, Saldanha Tigers, moes sy keer ken en al die gate toestop om te verhinder dat die telbord aan die rol bly. Met die afskop het Voorberg se voorspelers gedryf en baljaar, met Jeremy Jafhta (voorry) en Rayno Arendse (slot) aan die voorpunt.
Die span van Voorberg het ook eerste die telbord aan die gang gekry toe sy losskakel, Duncun Treurnicht, met ’n strafskop geslaag en sodoende sy span met 3-0 laat voorloop het.
Die tuisspan het hom nie laat intimideer nie en sy vlugvoetige agterlyn het elke kans gebruik om met die bal te hardloop. In die 17de minuut het die tuisspan se skrumskakel, Dillon Isaacs, oorgeduik vir ’n onverdoelde drie, met die telling 5-3 in Saldanha Tigers se guns.
Met ’n koel windjie van voor het die besoekers met hul kragtige voorspelers ver ente veld gewen en die tuisspan moes sy keer ken en die spelers het letterlik hul lywe op die spel geplaas.
In die 20ste minuut het die besoekers se skrumskakel, Ettienne Wildeman, oorgeduik vir ’n vyfpunter en sy span weer met 8-5 laat voorloop.
Saldanha Tigers se agsteman, Devril “the Beast” Julius, en Rowan “Kragbox” Vraagom het met hul stormlope die besoekers hoofbrekens besorg. In die 22ste minuut het die losskakel, Marco Abrahams, met ’n strafskop geslaag om die telling op 8-8 te staan te bring.
Die besoekers het met ’n geweldige poging vorendag gekom en hul agterlyn het met mening probeer om gate te slaan, maar die tuisspan se verdediging was rotsvas.
Die tuisspan se Ronnie “Sening” Brown (flank) en Thurnelle Jacobs (senter) het met hul verdediging toegesien dat deurkomkans min is. In die 38ste minuut het Julius met krag oorgegaan vir ’n drie wat deur Abrahams verdoel is. Die rustydtelling was 15-8 in die guns van die tuisspan.
Ná rustyd en met ’n ligte windjie van agter het die besoekers weer voorgevat en hier was Arendse, Jermaine Julies (flank) en hul kaptein, Morne Tshabalala (senter), briljant en het met goeie spel toegesien dat hul span die voordeellyn aanval. Die span van Saldanha Tigers het soos die dier op sy bors gekeer dat hulle nooit gaan lê nie.
Tshabalala het in die agtste minuut van die tweede helfte met twee verdedigers oorgebars vir ’n drie wat deur Treurnicht verdoel is. Die telling was nou gelykop met 15 elk.
Hierna het die Saldanha Tigers gewys hoekom hy al menige spanne in die tweede ronde op die neus laat kyk het. Dié jong span het met alles gekeer, geduik en aangeval en vir mekaar gespeel. In die 13de minuut het sy vleuel Japhton “Speedy” Jacobs met briljante voetwerk vorendag gekom en deurgenael vir ’n onverdoelde drie en sy span met 20-15 laat voorloop.
Voorberg het met alles gekom en uit alle hoeke aangeval. Ten spyte van die tuisspan se rotsvaste verdediging het Tshabalala vir sy tweede drie agter die doellyn gaan kuier. Treurnicht het weer met die doelskop geslaag en sy span met 22-20 laat voorloop. Met harde inklimspel van die besoekers by die losgemale het hulle probeer om die tuisspan te ontsenu en aan hul voorsprong te klou.
Die jongspan van die Tiere het karakter gewys en met verbete verdediging teruggeveg. Weer eens het Brown telkemale in die besoekers se gesig verskyn. In die 26ste minuut het die slot van die tuisspan, Vito Tieties, oorgeduik vir sy span se bonuspuntdrie en Abrahams het met die doelskop geslaag. Saldanha Tigers was 27-22 voor. Met die voorsprong het die span van Saldanha Tigers gewys hy wil sy doel bereik en in die topvier wees. Hulle het nie gaan slap lê nie en die besoekers moes hul keer ken. In die 34ste minuut het die senter Vernon “Ai” Losper oorgeduik vir sy span se vyfde drie, wat die telling op 32-22 in die guns van die tuisspan te staan gebring het. Hierna het die tuisspan se skare hulle met dreunsang aangemoedig.
Die besoekers se skrumskakel, Ettienne Wildeman, het in die 38ste minuut oorgeduik vir sy tweede drie en ook hul bonuspuntdrie, wat deur Treurnicht oorgeklits is (telling 32-29). Hierna het die besoekers hard probeer om die wenpunte aan te teken, maar Saldanha Tigers het hulle geen deurkomkans gegee nie. Die eindtelling was dus steeds 32-29 in die guns van Saldanha Tigers.
. Voorberg se uitblinkers: Jeremy Jaftha, Rayno Arendse, Jermaine Julies, Granville Swarts, Ettienne Wildeman, Morne Tshabalala (k) en Jacques Pretorius.
. Saldanha Tigers se uitblinkers: Tunelle Jacobs (senter), Ryno Williams (vleuel), Milani Zilani (heelagter), Devril Julius (agtsteman), Japhton Jacobs (vleuel), Ronnie Brown (flank) en Rowan Vraagom.
Voorberg se tweedes het 17-15 gewen.