Die Saldanha Tigers het Saterdag in die Swartwes-streekuitdaagwedstryd van die Boland-rugbyunie Universals van Hopefield in ’n taai wedstryd op die Ronnie Louw-sportterrein in Hopefield met 35-12 geklop.
Die Tiere het ses drieë teenoor twee gedruk. Die besoekende Tiere se linkervleuel, Japhton “Speedy” Jacobs, het ’n driekuns behaal.
Saldanha Tigers het uit die staanspoor gewys hy het gekom om maksimum punte te behaal, met ’n plek in die uitspeelwedstryde wat ’n moontlikheid was. Die besoekers het van die afskop af gewys dat hulle die bal die praatwerk gaan laat doen. Die spanne het nie eens kans gekry om mekaar deur te kyk nie. Saldanha Tigers se voorspelers het met mening ingeklim en in die sesde minuut is die bal met die agterlyn langs na Jacobs, wat met blote vaart en systappe agter die doellyn gaan kuier het (telling 5-0).
Hierna het die besoekers se voorspelers met mening ingeklim en Urgen “Diesel” Barends en sy manne het die tuisspan met brute krag met hul verdediging laat skarrel. In die 10de minuut is die kaptein, Lorenzo Potgieter, in die hoekie oor vir ’n onverdoelde vyfpunter en ’n telling van 10-0.
Universals se agtsteman, Jason Arries, was by tye ’n doring in besoekers se vlees. As hy aan die hardloop gaan, verg dit twee of drie verdedigers om hom plat te trek.
In die 17de minuut is die tuisspan se flank Herchelle Cupido oor vir ’n drie, met die telling op 10-5.
Die skrums was in daardie stadium redelik gelykop, met die voorspelers wat nie een wou bes gee nie.
Met sy agtsteman, Devril “the Beast” Julies, loskopstut, Rowan “Kragboks” Vraagom, en Barends aan die voortou, het die Tigers die verdediging aan die raai gehou en by tye is krag gebruik om veld te wen. In die 19de minuut is Jacobs weer met uitstekende en bedrieglike systappe oor die doellyn vir sy tweede drie, en ’n telling van 15-5.
Hierna het die spel redelik gewissel, van die een na die ander kant van die veld. Michail Williams, senter van die besoekers, het met tye die middelveld van Universals behoorlik getoets en die verdediging oorhoops gehad.
In die 30ste minuut het Jacobs sy driekuns behaal deur weer met vaart agter die doellyn te gaan kuier en die telling op 20-5 te staan te bring.
Die besoekers se flank Ronaldo “Sening” Brown het met tye die tuisspan se baldraers skaamteloos laat staan wanneer hy soos ’n skim die balle gesteel en teenaanvalle weggestuur het.
Arries is in die 37ste minuut met twee verdedigers op sy rug oor vir ’n drie wat deur die heelagter, Anwell Claasen, verdoel is, vir ’n telling van 20-12. Saldanha Tigers het hierna verwoed aangeval om die gaping in die telling te probeer vergroot. In die 40ste minuut het Julies oorgeduik vir sy span se vyfde drie om die rustydtelling op 25-12 te staan te bring.
Ná rustyd en harde gepraat deur hul afrigter, Jaydee Coetzee, het die tuisspan nie op hom laat wag nie. Met ’n ligte windjie van agter het Universals in die 8ste minuut ’n strafskop binne trefafstand gekry. Die losskakel, Marco Abrahams, het geen fout gemaak nie en die telling op 28-12 te staan gebring. Die besoekers het hierna fokus verloor en nie met dieselfde drif gespeel nie. Hulle het toegelaat dat die tuisspan hul momentum breek en talle foute begaan.
Die besoekers se heelagter, Milani “Mapimpi” Zilani, het soms met briljantheid vorendag gekom en dan moes die tuisspan sy keer ken.
Die skeidsregter, Adam Isaacs, het die wedstryd uitstekend hanteer. Geen span is bevoordeel nie en sy beslissings het geen vrae laat ontstaan nie. Beide spanne het goeie dissipline gehandhaaf en geen rede vir die skeidsregter gegee om benoude spronge te maak nie.
In die 23ste minuut het die plaasvervangersenter, Tiaan “Jam” van Wyk, die bal op die besoekers se kwartlyn ontvang en met krag vier verdedigers op pad doellyn toe geklop voordat hy oorgeval het. Die doelskop deur Abrahams het die eindtelling 35-12 gemaak, wat die Saldanha Tigers bo Universals tot die sesde plek op die punteleer laat opskuif het.
. Universals se uitblinkers: Arries, Keano-lee Swarts (senter), Cupido en Claasen.
. Saldanha Tigers se uitblinkers: Jacobs, Zilani, Julius, Brown, Revaldo Barends (slot), Michail Williams (senter) en Barends.
Universals se B-span wen met 29-7.