Daniël Smit (58), wat Jerobejin van Wyk (13) van Klawer vermoor, sy lyk opgekap, dele verbrand en op verskillende plekke weggesteek het, is Maandag (26 Oktober) aan al die aanklagte teen hom skuldig bevind.
Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is Smit in die rondgaande hooggeregshof in Vredendal op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, moord met voorbedagte rade, die skending van ’n lyk en regsverydeling skuldig bevind.
Die regsverydeling-aanklag spruit uit die klomp leuens wat Smit aanvanklik aan die polisie vertel het om hulle vir twee dae lank te mislei voordat hy in elk geval in hegtenis geneem is.
Smit het skuld beken op al die aanklagte, behalwe dat hy nie wou erken dat sy aksies met voorbedagte rade gepleeg is nie.
Regter Hayley Slingers het dit verwerp en hom skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade.
Smit het Van Wyk (13) en van sy maats op 2 Februarie 2022 in sy wit Ford Bantam-bakkie gejaag nadat hulle glo mango’s uit Smit se tuin gesteel het.
Smit het Van Wyk ten aanskoue van ooggetuies naby Niewoudt- en Kerkstraat, Klawer, met sy bakkie raakgery.
Hy het ’n duidelik beseerde Van Wyk agter in sy bakkie getel en die bakkap gesluit. By sy huis in Matzikamastraat het by in die motorhuis ingery en die garagedeur toegemaak. Hierna het hy Jerobejin gedwing om uit te klim.
Smit het volgehou dat hy ten spyte daarvan dat hy nog kwaad was, vir Jerobejin ’n broodjie gegee het, maar die staat het dié weergawe teengestaan omdat die forensiese getuienis dit nie kon staaf nie.
Smit het gesê hy het Jerobejin se nek gebreek op die manier waarop ’n Chinese okkultiese groep hom in die Kaap geleer het. Hy het die lyk eers in die vrieskas gaan wegsteek sodat sy dogter, wat saam met hom in die huis was, dit nie sou raaksien nie.
Smit het sy dogter tydens aandete slaappille ingegee sodat sy nie sou hoor as hy die lyk skuif nie. Volgens Smit het hy ’n reuse-vuur met teerpale in die vuurherd gemaak en die lyk opgesny, ook soos wat die okkultiese groep hom glo geleer het.
Smit het gehoop dat die warm vuur soos ’n krematorium sou werk, maar van die liggaamsdele het nie verbrand nie. Hy het dié dele in die drein en dromme gesit.
Smit het glo “verskriklik alleen en afgestomp” gevoel terwyl die lyk gebrand het en lank op die stoep gesit. Hy het besef dat hy nou ’n “seun” geoffer het – iets wat die okkultiese groep glo in 2000 van hom van sy eie seun geëis het, waarop hy glo die groep verlaat het.
In ’n hartseer brief ter vonnisverswaring het Van Wyk se ma, Triesa, geskryf haar lewe het onherroeplik verander. Sy skryf sy het soos enige moeë broodwinner die dag van haar seun se dood by die huis gekom en moes hoor dat hy vermis word. Uit die brief word dit duidelik dat sy na Smit se huis is om te vra waar haar kind is.
Haar hart het in honderd stukke gebreek toe sy hoor dat haar kind dood is en dat sy lyk opgekap is.
“Skielik het die lewe nie meer vir my sin gemaak nie.”
Sy wil steeds by Smit weet wat haar kind se laaste woorde was.
“Die dag toe ons na die lykshuis geneem is, het ek ten minste verwag om ’n lyk te sien . . . net om ontmoet te word deur ’n klein plastieksakkie met onvolledige liggaamsdele. Om te dink dat ek geboorte gegee het aan ’n hele liggaam en stukke teruggekry het.”
Triesa het by die hof gepleit om met Smit se vonnis “hierdie soort monster heeltemal uit die gemeenskap te hou”.
Sy beklemtoon dat sy hom “nooit, ooit, ooit” sal kan vergewe nie.
Smit se vonnisoplegging vind Maandag 4 November plaas. Louise Friester-Sampson, senior staatsadvokaat, het Dinsdag die staat se saak afgesluit en die verdediging het sy getuienis ter strafversagting voorgelê.