Thiedu du Preez, ’n graad 8-leerder aan die Hoërskool Vredenburg, is as een van die top-10-finaliste in Afrikaans.com se skilder-met-woorde-kompetisie gekies.
Afrikaans.com het saam met Anton Goosen en Elsie Joubert saamegespan om hierdie kompetisie ’n werklikheid te maak.
Leerders is uitgedaag om ’n Anton Goosen-lied as hul tema vir hul skildery te kies. Thiedu het Goosen se liedjie “Jantjie” vir sy tema gebruik.
Hy verduidelik sy ma het hom altyd na Goosen se liedjies laat luister, en “Jantjie” het vir hom uitgestaan en hy kon ’n prentjie in sy kop sien. “My suster skilder ook en ons hele gesin gesels altyd oor ons skilderye en ons help mekaar om idees te vorm,” vertel Thiedu.
Thiedu se skildery verteenwoordig die lied met die uitbeelding van Kaapse huisies, Tafelberg in die agtergrond en die leë strate, terwyl die vliegtuig Jantjie verteenwoordig wat terugkom huis toe.
“Ek het nog nooit geboue geskilder nie en dit was lekker om iets nuuts te probeer. Anton Goosen is ook een van my oupa se gunstelingsangers en dit was lekker om een van sy liedjies te kon skilder.”
Hoërskool Vredenburg is baie trots op Thiedu.