Die skoolbeheerliggaam (SBL) van Hoërskool Louwville het ’n verklaring uitgereik wat hy graag met die gemeenskap wil deel. Manrich Carolus, SBL-voorsitter, het die volgende gedeel:
“As SBL-voorsitter wil ek graag die volgende inligting deurgee aan ouers/voogde en ander belanghebbendes van Hoërskool Louwville, ná die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se ondersoek na seksuele teistering deur mansonderwysers. Die saak is laat vaar, omdat daar nie genoegsame bewyse teen hom was nie.
“Die saak van rassisme teen ’n senior onderwyser word tans nog deur die WKOD ondersoek. ’n Vergadering is gehou om terugvoering aan ouers te gee oor die memorandum wat deur stakende leerders aan ons oorhandig is. Ons beheerraad is tans besig om deur ons gedragskode te werk, wat natuurlik baie in die memorandum aanspreek.
“As beheerraad wil ons verskoning vra vir enige ongerief wat tydens die staking veroorsaak is. Ons missie is om leerders se potensiaal tot die beste van hul vermoë te ontgin.
“Daar is op Facebook uitlatings deur die ANC-jeugliga gemaak wat van alle waarheid ontbloot is.
“Ons het met hulle vergader om ons ontevredenheid uit te spreek. Ons wil u as ouers, leerders en onderwysers wat negatief deur die staking beïnvloed is, om verskoning vra. Indien u enige navrae het, kontak my gerus by 072 328 4205.”